Archives

Vloede, sneeu vandag en môre moontlik

Featured Ad


Foto: Connus Meyer

Vloedtoestande kan moontlik vanaand plek-plek oor dele van die Swartland, Ceres, Worcester, die Paarl, Stellenbosch en die Kaapse metropool voorkom.

Swaar reën van 50 mm of meer is vandag en môre moontlik oor die suidelike dele van die Weskus, die suidelike dele van die Kaapse Wynland, die hele Kaapse metropool, asook die westelike en suidwestelike dele van die Overberg, sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige.

“Tans wys voorspellings dat aanhoudende reën kan voortduur tot Dinsdagnag en dat vloedtoestande reeds teen vanaand kan ontwikkel. Die grootste gevaar is in die Swartland, die aangrensende dele van die Ceres-omgewing, die gebied suid en suidwes van Worcester oor veral die Paarl, Stellenbosch, die Kaapse metropool en dan ook ooswaarts tot so ver as Hermanus.”

Van den Berg sê die toestande kan van Dinsdag deur die nag begin opklaar oor die westelike dele en teen Woensdag oor die Overberg en Tuinroete. Minder reën gaan voorkom oor die Suidkus en die Tuinroete. Ligte neerslae kan tot Woensdag so ver noord as Garies en Springbok, Beaufort-Wes, Oudtshoorn en Mosselbaai voorkom.

“Hierdie reën sal vergesel word van baie sterk winde rondom veral Dinsdag oor die meeste kusgebiede, maar veral die Suidkus. Winde van tot 60 km/h of sterker is moontlik oor die suidelike en suidoostelike kusgebiede.”

Sneeu en nog reën

Voorspellings dui aan dat ligte tot matige sneeu oor die Wes-Kaapse berge en veral die hooggeleë gedeeltes van die Cederberge kan voorkom. Die swaarste sneeu word verwag oor die Drakensberge en die aangrensende dele van die Oos-Kaap rondom Dinsdag en Woensdag (14 en 15 Junie). Veral in die distrikte Barkly-Oos, Elliot en Rhodes is redelike sneeuneerslae moontlik.


Die volgende frontale stelsel gaan weer van Saterdag (18 Junie) reën veroorsaak, maar voorspellings dui nie tans neerslae so swaar soos vandag en môre aan nie. Neerslae van 20 mm tot 30 mm is moontlik oor die Kaapse metropool en suidelike dele van die Wynland en Swartland, met rondom 10 mm vir die res van die winterreëngebied. Baie min reën word dan vir die Tuinroete voorspel.

“Verdere reën is weer moontlik rondom 22 tot 25 Junie voordat ‘n periode van ongeveer ‘n week tot tien dae met minder reën verwag word,” sê Van den Berg.

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon