Archives






Featured Ad


KYK: Eerste sneeu van die week begin val

Sneeu sak Dinsdagoggend, 14 Junie 2022, op die Rogge Cloof-landgoed in die distrik Sutherland uit. Foto: RoggeCloof-landgoed/Facebook

Terwyl reën deur die nag en vanoggend steeds uitsak oor dele van die WesKaap, het die eerste sneeu by die Rogge Cloof-landgoed in die distrik Sutherland begin val. Die landgoed het rondom 09h00 vanoggend video’s van die eerste sneeu daar op hulle sosiale media platvorms begin deel. Dié video is op die landgoed se Facebookblad gedeel.

Sneeu word ook in die hooggeleë dele van die Wes-Kaap verwag, maar boere in die distrik Ceres sê daar val nog nie sneeu nie. Mnr. Rossouw Cillie, eienaar en besturende direkteur van Laastedrif-boerdery, sê sowat 30mm het al by hulle geval.

Die neerslae wat op sosiale media gedeel word dui tot 110mm oor dele van Kaapstad aan. Mnr. Richard Krige, ondervoorsitter van Graan SA, sê op sy plaas in die Overberg is sowat 45mm gemeet. Metings elders in die Overberg wissel tussen 20mm en 48mm, met sowat 15mm in die Rooikaroo en tussen 30 en 70mm in die res van die Swartland. Volgens mnr. De Wet Viljoen, wynmaker by Neethlinghof in die distrik Stellenbosch, het hulle teen Dinsdagoggend reeds 125mm gemeet. By die Groote Post-landgoed in die distrik Darling aan die Weskus is sowat 47mm al gemeet.

Mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige, het vroeër aan Landbou.com gesê voorspellings dui aan dat ligte tot matige sneeu oor die Wes-Kaapse berge en veral die hooggeleë gedeeltes van die Cederberge kan voorkom. Die swaarste sneeu word verwag oor die Drakensberge en die aangrensende dele van die Oos-Kaap rondom Dinsdag en Woensdag (14 en 15 Junie). Veral in die distrikte Barkly-Oos, Elliot en Rhodes is redelike sneeuneerslae moontlik.

Die volgende frontale stelsel gaan weer van Saterdag (18 Junie) reën veroorsaak, maar voorspellings dui nie tans neerslae so swaar soos vandag en môre aan nie. Neerslae van 20 mm tot 30 mm is moontlik oor die Kaapse metropool en suidelike dele van die Wynland en Swartland, met rondom 10 mm vir die res van die winterreëngebied. Baie min reën word dan vir die Tuinroete voorspel.

“Verdere reën is weer moontlik rondom 22 tot 25 Junie voordat ‘n periode van ongeveer ‘n week tot tien dae met minder reën verwag word,” sê Van den Berg.

Comments

  • Sussie
    June 14, 2022 at 8:20 pm

    Wow Dankie.

  • Sussie
    June 14, 2022 at 8:21 pm

    Wow. Baie dankie vir die fotos.

    • AgriOnline
      June 15, 2022 at 10:12 am

      Groot plesier!

  • Jan Engelbrecht
    June 18, 2022 at 8:07 am

    Wow dit lyk baie koud😁

Add a comment
Right Menu Icon