Archives

Afslagdiesel geen invloed op voedselpryse

Featured Ad


Die vraag is of ‘n verhoogde dieselrabat voedselpryse sal stabiliseer.

Deur Maarten Kruger, veeboer tussen Senekal en Ventersburg

Ek lees die artikel met die opskrif, “Hoër dieselrabat kan voedselpryse stabiliseer”, wat op 1 Junie geplaas is, maar ek wil graag my stuiwer in die armbeurs gooi.

As veeboer wat nou al 23 jaar lank boer, maak dit nie vir my sin nie. Vir die afgelope 20 jaar-plus is die landbou-organisasies baie lief om die woord “voedselsekerheid” te gebruik. Hier moet ons lees dat ʼn verhoging in die dieselrabat voedselpryse sal stabiliseer en voedselsekerheid sal verseker. Hoe gaan dit gebeur?

Die graanboere het dan self besluit dat hulle hul verkoopprys gaan vasstel volgens internasionale graanpryse.

Gaan ons graanboere dan in die toekoms nie meer die internasionale pryse gebruik om hul plaaslike pryse vas te stel nie? Hoe anders gaan hulle dan die hoër rabat, oftewel korting, in die prys inwerk om te verseker dat plaaslike voedselpryse stabiliseer?

Nog ʼn vraag, hoe gaan die rabat die res van die landbousektore soos vee, vrugte en pluimvee bevoordeel, wat ook aan pryse buite hul beheer onderwerp is?

Die afgelope vier jaar sit ons veeboere in die noordelike en sentrale dele met ʼn bek-en-klouseerprobleem wat ʼn daling in ons inkomste veroorsaak het en steeds is ons prysnemers, met pryse wat aan markkragte onderwerp is.

Na my wete is daar nog nie een keer vir enige korting vir veeboere baklei weens die bek-en klouseerkrisis nie, wat boonop deur die staat self veroorsaak word.

In die afgelope paar maande het my voer van R240 tot meer as R330 per sak gestyg. Dít weens die  krisis wat Rusland veroorsaak het. Weereens het geen van die organisasies vir ons baklei vir enige voerkorting nie. Die aanry van voer vanaf die koöperasie na die plaas kos ook geld, maar niemand het dit as ‘n probleem vir die veeboere gesien en vir ‘n dieselkorting gevra nie.

 

Graanboere verbruik meeste diesel

As daar dan nou gepraat word van goedkoper diesel wat tot voedselsekerheid sal lei, word daar dan eintlik verwys na die graansektor wat die meeste diesel verbruik?

In die 23 jaar dat ek boer, het ek gesien dat graanboere se grond uitbrei, terwyl veeboere maar aanhou met wat hulle het. Op Nampo is daar trekkers en stropers wat R14 miljoen kos. Bitter min veeboere kan dit bekostig en nogtans word daar versoek dat die dieselrabat moet verhoog, want graanboere kan nie die duur diesel bekostig nie.

Wat ek wel hieruit kan aflei, is dat die landbou-organisasies net die graansektor belangrik vir voedselsekerheid ag.

 

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon