Archives

KYK: Nat sojalanderye laat boer unieke plan maak

Featured Ad


Vida Booysen-Landbou.com

'n Werker op die plaas Welverdiend naby Middelburg in Mpumalanga sny ryp sojas met 'n onkruidsnyer af. Foto: Carel Opperman

As die lande te nat is om te stroop, dan maak 'n boer 'n ander plan.

Die afgelope week is ‘n video wyd gedeel waarin daar gewys word hoe ‘n werker rye ryp sojaboonplante met ‘n onkruidsnyer afsny.

Dié plan het vir hom tussen 18 en 19 ton sojabone gelewer wat andersins uit die peule sou spring en nutteloos op die grond sou val, sê mnr. Carel Opperman van C&J Boerdery op die plaas Welverdiend naby Middelburg in Mpumalanga. Toe dit tyd word om die sojabone te stroop, was sy landerye so nat dat die stroper sommer al op die wenakker vasgesit het.

“Ek het net besef dit is ‘n klomp geld wat ek gaan verloor; ek het rekeninge om te betaal en kon nie die sojas net daar los nie.”

Hy het 9 ha sojabone op die manier met die onkruidsnyer gesny en die werkers het toe met vurke daarvan hope gemaak. “Ons het dit op die sleepwa gelaai en dit op windrye gaan gooi waarna ons dit met die stroper gestroop het.”

Die plan is al voorheen uitgevoer, sê Opperman. “Ek’t destyds vir ‘n buurman van my gewerk en ons het dit lank terug daar by hom gedoen. Hierdie jaar moes ons dit noodgedwonge weer doen en toe het ander ouens ons nagevolg.”

Hy sê sommige werkers het aanvanklik hul koppe geskud en lekker onder mekaar gelag omdat hulle nou sojabone met onkruidsnyers moet “oes”.

KYK! Nat sojalanderye laat boere unieke plan maak Die afgelope week is ‘n video wyd gedeel waarin daar gewys word hoe ‘n werker rye ryp sojaboonplante met ‘n onkruidsnyer afsny.

'n Bonus

“Hulle het beurte gemaak met die onkruidsnyer en ek het gesê die ouens wat vinniger vorder, sal ‘n bonus kry. Dít het gesorg dat ons sommer binne ‘n japtrap klaar was.”


Daar was van oral in die somersaaigebied berigte van boere wat gedeeltes van hul sojaboonaanplantings nie kon stroop nie, weens lande wat te nat was, sê mnr. Corné Louw, senior ekonoom van Graan SA. “Ek hoor nou nog van sojaboonprodusente wat nou eers weer aan die stroop kom, ná die reën wat in Mei geval het. Hierdie tyd in die verlede was die oes reeds af.”


Louw verduidelik dat ‘n sojaboon nie soos ‘n mielie baie lank op die lande kan staan sonder om iets oor te kom nie. Jy moet hom stroop wanneer hy gereed is daarvoor. Dis hoekom mense vir jou sal sê as jy beplan om sojabone te plant, moet jy sommer klaar die stropers koop.”


Dit is nog onduidelik hoe groot die impak van die vertragings en moontlike oesverlies op die uiteindelike grootte van die nasionale oes sal wees, sê Louw. “Natuurlik is die impak vir die individuele boere van enigiets wat hulle nie gestroop kry nie, wesenlik. Maar ons sal eers ‘n idee van die geheel-impak begin kry as die volgende oesskatting in die laaste week van Junie uitkom. Maar dat daar wel ‘n impak is, is definitief die geval.”

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon