Archives

Vierde oesskatting vir somergewasse meestal onveranderd

Featured Ad


Die nasionale oesskattingskomitee (NOK) het in sy vierde skatting vir somergewasse van die 2022-siesoen die produksieskatting van sojabone met 44 850 ton of 2,38% tot 1,93 miljoen ton opwaarts aangepas. Die geskatte oppervlakte van sojabone is 925 300 hektaar en die verwagte opbrengs is 2,09 ton per hektaar.

https://agtag.co.za/category/14/post/30807

Mielies

Ondanks vrese oor swakker oeste weens die baie reën het die NOK die kommersiële mielie-oes onveranderd op 14,72 miljoen ton gelaat. Die skatting van die oppervlakte onder mielies is 2,6 miljoen hektaar, terwyl die verwagte opbrengs op 5,61 ton per hektaar gereken word. Hoewel die geskatte mielie-oes 10% kleiner is as die 2021-oes, is dit steeds aansienlik meer as die tienjaargemiddelde van 12,8 miljoen ton. Die drie belangrikste mielieproduserende gebiede, die Vrystaat, Mpumalanga en Noordwes, gaan na verwagting 82% van die 2022-oes oplewer.

Die oppervlakte onder witmielies is 1,58 miljoen hektaar met ‘n opbrengs van 4,8 ton per hektaar en vir geelmielies is die oppervlakte 1,05 miljoen hektaar met ‘n opbrengs van 6,8 ton per hektaar. Die produksieskatting van witmielies is nou 7,55 miljoen ton en vir geelmielies 7,18 miljoen ton.

Suid-Afrika bly ‘n netto uitvoerder met sowat 2 miljoen ton wat uitgevoer sal word in die bemarkingsjaar wat op 1 Mei 2022 begin het. Hiervan is 73 800 ton wit- en 97 800 ton geelmielies reeds in die eerste drie weke van die bemarkingsjaar uitgevoer.

Die oppervlakte beplant met mielies in die nie-kommersiële landbousektor word geskat op 378 800 hektaar, wat ‘n toename van 4,38% verteenwoordig. Die verwagte mielie-oes van dié sektor is 667 000 ton, wat 4,80% meer is as die vorige seisoen. Van hierdie oes word sowat 47% in die Oos-Kaap verbou en ‘n verdere 22% in KwaZulu-Natal.

Sonneblomsaad

Die produksieskatting vir sonneblomsaad is onveranderd gelaat op 963 000 ton. Die oppervlakteskatting vir sonneblomsaad is 670 700 hektaar, terwyl die verwagte opbrengs op 1,44 ton per hektaar gereken word. Vir die sonneblom-en sojaboonoeste is dit die tweede grootste op rekord.

Ander somergewasse

Wat ander somergewasse betref, het die NOK die verwagte grondbone-oes onveranderd op 70 400 ton geraam. Vir grondbone is die oppervlakteskatting 43 400 hektaar, terwyl die verwagte opbrengs op 1,62 ton per hektaar gestel word.

Die produksieskatting vir sorghum is onveranderd gelaat op 137 220 ton. Die oppervlakteskatting vir sorghum is 37 200 hektaar, en die verwagte opbrengs is 3.69 ton per hektaar.

In die geval van droëbone is die produksieskatting onveranderd gelaat op 55 995 ton. Die oppervlakte beplant is 42 900 hektaar en die verwagte opbrengs beloop 1,31 ton per hektaar.

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon