Archives

Ongeregistreerde en onwettige veemiddels is taboe

Featured Ad


As direkteur van die Griffon-gifinligtingsentrum en konsultant van die Suid-Afrikaanse Dieregesondheidsvereniging (SADGV), glo dr Gerhard Verdoorn dat ’n veearts iemand is wat kuddegesondheid op ‘n plaas help verseker, en daarop ingestel moet wees om produsente bewus te maak van die gevare van onwettige veemiddels op die plaas.

https://agtag.co.za/category/14/post/30808

Die tema van sy gesprek by vanjaar se RuVASA-kongres het gehandel oor die gebruik van ongeregistreerde en onwettige dieregesondheidsmiddels wat in die veebedryf aangewend word. Volgens dr Verdoorn sal daar altyd mense wees wat net nie gehoor wil gee aan wat die wet en etiek voorskryf nie. Die afgelope paar jaar is daar ‘n geweldige groot toename in ongeregistreerde middels vir dieregesondheid in die Suid-Afrikaanse mark, en dit sluit onder andere in dipstowwe en ontwurmmiddels vir parasietbeheer, asook onwettige entstowwe.

Ingevoer onder die dekmantel van wettige middels

Nog ‘n aspek van onwettige middels, is dié wat wel onder Wet 36 van 1947 op Misstowwe, Veevoedsel, Landboumiddels en Veemiddels, en Wet 101 vir die Beheer van Medisyne en Verwante Stowwe vir gebruik geregistreer is, maar wat die land onwettig binnekom.

Dit kom daarop neer dat aktiewe bestanddele van middels wat onder Wet 101 geregistreer is, dikwels ingevoer word na SA sonder dat die spesifieke aktiewe bestanddele wel registrasie as ‘n kommersiële produk het. Volgens dr Verdoorn word hierdie dieregesondheidsmiddels onwettig ingevoer deur persone wat die wet omseil, en geld daaruit wil maak deur dit aan produsente en voerkrale te verkoop.

Hy is van mening dat daar dikwels geweldige groot hoeveelhede antibiotika of groeihormone by intensiewe landbou-bedrywighede aangewend word wat nie verklaar word nie en wat lei tot die vraag waarom mense siek word. Onwettige bedrywighede in die gebruik van veemiddels word egter in beide die ekstensiewe en intensiewe veebedryf waargeneem, en bedreig die volhoubaarheid van die land se lewendehawe-bedryf.

Een van die vraagstukke wat dr Verdoorn by die kongres aangespreek het, is of ‘n ongeregistreerde produk vir enting teen ‘n bepaalde siekte werklik die nodige beskerming daarteen sal bied, en indien ‘n dier die siekte wel sou opdoen, of dit daardie siekte sal kan beheer. Die tweede vraag wat gereeld ter sprake kom, is die moontlike nadelige gevolge wat dit kan inhou vir mense wat die vleis of melk van ‘n dier wat met onwettige veemiddels behandel was, inneem.

As produsente en veeartse die regte dieregesondheidsmiddels gebruik wat in terme van Wet 101 of Wet 36, sal daar in beginsel geen probleem wees as die aanwysings streng nagevolg word nie. Dr Verdoorn sê dit is ongelukkig so dat onwettige bedrywighede met dieremiddels die afgelope dekade daarvoor gesorg het dat mense se gesondheid daaronder ly, en ook tot groot skade by voerkrale gely het.

*Die artikel het oorspronlik op AgriOrbit verskyn.

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon