Archives

Versoek dat Eskom landbou ʼn noodsaaklike diens verklaar

Featured Ad


Maroela Media – Versoek dat Eskom landbou ʼn noodsaaklike diens verklaar | Maroela Media

 

Die landboubedryf in die Vrystaat is noodsaaklik vir die land se voedselsekuriteit en moet as ʼn strategiese en noodsaaklike ekonomiese bedryf geag word deur Eskom.

“Die Vrystaat is die broodmandjie van Suid-Afrika. Die Demokratiese Alliansie het gevolglik ʼn versoek gerig aan Eskom dat hulle ons landboubedryf en van ons agri-besighede sal vrystel van beurtkrag,” sê Roy Jankielsohn, die DA se woordvoerder oor landbou in die Vrystaat.

Volgens hom verskaf die Vrystaat 10% van alle landboukommoditeite in Suid-Afrika. Voorbeelde van die Vrystaat se nasionale landboubydraes, kragtens die LUR vir landbou in sy begrotingstoespraak vir 2022/23, sluit dit onder andere sorghum (23%), sonneblomme (56%), mielies (45%), grondboontjies (26%), aartappels (40%), sojabone (44%), ens. in.

“Beurtkrag het ʼn verwoestende impak op die primêre en sekondêre landboubedrywe. Besproeiing, suiwelplase, meule en talle ander landbouverwante bedrywighede is afhanklik op ʼn standvastige kragtoevoer. In sommige gevalle, soos grootskaalse meule, maak hulle uitsluitlik staat op Eskom-krag, aangesien kragopwekkers nie die noodsaaklike hoeveelheid krag kan opwek nie.”

Jankielsohn voeg by dié bedrywighede kan ook nie op kort kennisgewing net aan- of afgeskakel word nie. Dit vereis boonop bykomende tyd om die vervaardigingsaktiwiteite weer aan die gang te kry.

“Baie van ons dorpe in die Vrystaat sit reeds sonder water as gevolg van beurtkrag en ons kan nie bekostig dat mense ook sonder kos sit nie.”

Jankielsohn het Agnes Mlombo, die algemene bestuurder verantwoordelik vir verspreiding in die sentrale-oos-klos, wat die Vrystaat insluit, skriftelik genader en versoek dat die landboubedryf as ʼn noodsaaklike diens verklaar sal word sodat dit kwytgeskeld kan word van beurtkrag.

Daar is ook ʼn versoek dat die huidige oesseisoen beskerm sal word teen beurtkrag. “Boere is besig om te oes en pakhuise en koelkamers het ʼn stabiele kragtoevoer nodig.”

Die DA versoek dat Eskom ʼn alternatiewe beurtkragskedule sal implementeer vir die Vrystaat volgens kommoditeit en streek.

“Ons versoek ook dat suiwelboere, besproeiingsboere en meule se baie spesifieke behoeftes en vereistes raakgesien sal word en dat hulle dienooreenkomstig bygestaan sal word.”

Jankielsohn sê die impak van beurtkrag in die Vrystaat hou ʼn ernstige bedreiging in vir voedselsekuriteit en veroorsaak boonop meer misdaad en is ʼn sekuriteitrisiko vir boere. “Die DA is van mening dat die landboubedryf ʼn noodsaaklike diens is en dat hulle die nodige ondersteuning moet kry van Eskom, die regering en die gemeenskap, sodat hulle in hierdie moeilike tye kan voortgaan om voedsel vir ons mense in Suid-Afrika te produseer.”

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon