Archives

‘SA voedselsekerheid nou bedreig’ – Astral-hoof

Featured Ad


Mnr. Chris Schutte. Foto: Astral

 

Landbou.com – ‘SA voedselsekerheid nou bedreig’ – Astral-hoof | Landbou

 

Schutte sê as Astral nou in ’n kort tyd 12 miljoen minder braaihoenders moet plaas omdat die maatskappy hulle weens beurtkrag nie kan slag nie, behoort dit ’n vakuum iewers in die toekoms te veroorsaak.

 

“Ons kan minder hoendervleis verwag of hoendervleis teen ’n heelwat hoër prys. Vraag en aanbod sal die prys bepaal.

 

“Die kwessie van voedselsekerheid word in baie bedrywe bespreek. Almal is bekommerd dat langdurige beurtkrag van fase 2 en hoër iewers ’n vakuum gaan skep.”

 

Die JSE-genoteerde Astral-groep verwag volgens ’n vrywillige handelsverklaring dat sy verdienste per aandeel in die ses maande tot 31 Maart vanjaar tot 90% laer as in die ooreenstemmende tydperk tot einde Maart verlede jaar gaan wees.

 

Schutte het met die publisering van die verklaring gesê die stygende koste van ’n Suid-Afrikaanse voedselmandjie, wat hoendervleis as ’n stapelproteïen insluit, sal verbruikers onder uiterste stres plaas weens finansiële swaarkry. Astral sal opnuut enige pleidooi dat BTW nie op hoendervleis betaalbaar moet wees nie, ondersteun.

 

“As die huidige mark- en bedryfstoestande weens beurtkag voortduur, kan dit daartoe lei dat Astral op kort termyn die grootte van sy bedrywighede aanpas, wat tot werkverliese regdeur die voorsieningsketting sal lei,” het Schutte gesê.

 

“Dit is baie ontstellend om ’n vrywillige handelsverklaring van dié aard bekend te stel, ná uitstekende resultate vir die jaar tot 30 September 2022.

 

“Die onderliggende grondbeginsels in die groep bly onveranderd, maar weens die agteruitgang van Suid-Afrika se basiese infrastruktuur, spesifiek elektrisiteits- en watervoorsiening, maar sakewinsgewendheid byna onmoontlik.

 

“Ek dink nie die regering begryp die erns van die situasie en die reuse-impak wat beurtkrag op gewone burgers en sake-ondernemings het nie.”

 

Hoenderproduksie verminder

 

Astral moet, weens beurtkrag, in die eerste halfjaar van sy nuwe boekjaar sy plasing van braaihoenders met minstens 12 miljoen verminder.

 

In die eerste kwartaal van sy nuwe boekjaar, van Oktober tot Desember 2022, het sy pluimvee-afdeling erge bedryfsontwrigtings ervaar.

 

“Abnormale koste is aangegaan weens ’n agterstand in die braaihoender-slagprogram, wat gelei het tot ouer en swaarder hoenders wat meer voer vreet,” luidens die verklaring.

 

“Bykomend hiertoe word buitensporige verwerkingskoste aangegaan omdat bykomende skofte ingestel word om te probeer om die beduidende agterstand in die groep se geïntegreerde braaihoender-voorsieningsketting aandag te gee.

 

“Die groter hoenders en voortgesette beurtkragontwrigtings het die groep se aanbod van pluimveeprodukte verswak.”

 

Benewens beurtkragverwante ontwrigting en koste het voerkoste ook in die kwartaal gestyg. Astral sê die Safex-geelmielieprys het ’n hoogtepunt van rondom R5 300/ton bereik weens die verswakkende rand en knap internasionale voorraad. Voerkoste verteenwoordig sowat 70% van die koste om ’n lewende braaihoender te produseer.

 

Astral het voorheen aangedui dat ’n beduidende styging in die braaihoender-verkoopsprys nodig sou wees om hoë voerinsetkoste en die uitwerking van beurtkrag te verhaal. “Astral kon egter nie die vereiste verkoopsprysstyging in werking stel nie en ‘subsideer’ steeds die verhoogde koste van produksie aan ons kliëntebasis en die verbruiker.

 

“Gegrond op die heersende mark- en bedryfstoestande oorskry die koste om hoendervleis te produseer die verkoopsprys met R2/kg. Die pluimvee-afdeling verwag dus om in die eerste halfjaar van sy 2023-boekjaar beduidende verliese te ly.”

 

Voerafdeling bestuur risiko’s

 

Astral sê sy voerafdeling kon die impak van beurtkrag suksesvol bestuur deur onbenutte kapasiteit by sy verskeie voermeulens te gebruik, maar dit was teen bykomende koste. Die afdeling moet kapitaal bestee om verdere risiko te verminder.

 

Die pluimvee-afdeling het baie meer voer nodig gehad en dié hoër interne voervolume sal die voerafdeling se finansiële prestasie in die finansiële halfjaar tot 31 Maart 2023 bevoordeel.

 

Koste van beurtkrag

 

Astral sê die verwagte koste van beurtkrag in die eerste ses maande van sy nuwe boekjaar is sowat R400 miljoen.

 

Die groep het verder ’n groot deel van sy beoogde kapitaalbesteding van R737 miljoen op ys geplaas, gegewe die huidige ongunstige marktoestande. Die groep het wel geld toegewys aan die oprigting van rugsteun-kragopwekking om beurtkrag se uitwerking te verminder.

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon