Archives

Uitsprake oor onteieningswetsontwerp ‘net politiek’

Featured Ad


Landbou.com – Uitsprake oor onteieningswetsontwerp ‘net politiek’


Die voorgenome omstrede wetgewing oor onteiening is ‘n tree nader daaraan om wet te word ná nog ‘n stempel Woensdag daarop afgedruk is, kort voor pres. Cyril Ramaphosa vanaand sy staatsrede lewer.

Heelwat kritiek en kommer is al oor verskeie kwessies in die wetsontwerp uitgespreek. Op dieselfde dag dat die nasionale raad van provinsies (NRP) die wetsontwerp aanvaar het, het Jerome Topley, besturende direkteur vir boereontwikkeling van die Sernick-groep, gesê produktiewe landbougrond sal nooit van boere weggeneem word nie. “Dit gaan nie gebeur nie, al is dit die jargon wat politici gebruik met die verkiesing wat op hande is.”

Topley het deelgeneem aan die eerste landbou-ontwikkelingsimbizo wat deur African Farming, Landbouweekblad se sustertydskrif, in Boksburg aangebied is. Boere op produktiewe grond kan dus gerus slaap en hulle hoef hulle nie te bekommer nie, het hy gesê. Lees hier meer.

Die landbousektor het ook al verskeie kere kommer daaroor uitgespreek en gewaarsku indien dit wet word, kan titelaktes, landbouproduksie en voedselsekerheid in die gedrang kom. Die georganiseerde landbou is veral bekommerd oor die definisie van onteiening, asook artikel 12 van die wetsontwerp wat handel oor vergoeding vir onteiening.

Vrystaat Landbou het in sy voorlegging verlede jaar tydens die openbare verhore uitgewys die voorgenome wetgewing “is nie net onregverdig nie, maar in die huidige omstandighede ook irrasioneel en onverantwoordelik. Suid-Afrika het dringend beleggings, ekonomiese groei, werkskepping, armoedeverligting en die skepping van ‘n regverdige en billike samelewing nodig,” het dr. Jack Armour, bedryfsbestuurder van Vrystaat Landbou, gesê.


Lees die volle berig op Lanbou.com – Uitsprake oor onteieningswetsontwerp ‘net politiek’

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon