Archives

Uitdagings en vooruitsigte vir veeboere

Featured Ad


Maroela Media – Uitdagings en vooruitsigte vir veeboere | Maroela Media


Veeboere is reeds deeglik bewus van ontwrigtings wat die bek-en-klouseer-pandemie veroorsaak het en dié virus skep steeds ʼn groot bekommernis. Oor die afgelope jaar is dit in ses van Suid-Afrika se nege provinsies aangemeld, wat ʼn verbod op alle beesbewegings vir etlike weke veroorsaak het.

Die Krugerwildtuin, ʼn aangrensende strook aan sy westelike kant en Noord-KwaZulu-Natal word as besmette sones beskou en hierdie gebiede word deur ʼn beskermingsone of gordyn omring, waarin alle gesplete hoefdiere veronderstel is om teen die bek-en-klouseer-virus ingeënt te word.

Dit is ʼn uiters aansteeklike siekte, wat gesplete hoefdiere soos beeste, skape, bokke, varke en wild, wat in gebiede soos die Krugerwildtuin draers is, aantas. Infeksie word versprei deur noue of regstreekse kontak met ander besmette diere, of wanneer gesonde diere oor besmette gebiede beweeg. Dié siekte veroorsaak nie vrektes nie, maar dit veroorsaak blase en ulkusse op die diere, tipies rondom die bek, pote en spene. Hierdie ongemak verhoed dat diere kan vreet en benadeel vleis- en melkproduksie en die gehalte van skape se wol.

In die verlede het die Suid-Afrikaanse regering ʼn baie groter rol gespeel om hierdie siekte te bekamp, deur byvoorbeeld diere se bewegings te beperk. In beginsel moet alle besmette diere geïsoleer word en die kudde moet gereeld gespuit en gemonitor word. Nou word dit toenemend aan individuele boere oorgelaat om verantwoordelikheid vir die biosekerheid van hul plase te aanvaar.

Boere sal derhalwe biosekerheid baie ernstiger moet opneem, omdat elke oortreding die potensiaal het om die produktiwiteit van baie omliggende plase te bedreig. Om te begin moet hulle die verkeer wat op hul plase kom, begin beheer, waaronder enige beweging van wilde diere. Die virus word ook versprei soos diere deur mis loop en dit kan tot drie dae in die atmosfeer oorleef. Besmette mis kan ook oor baie kilometers op ʼn voertuig se wiele gedra word, so boere moet gewoond daaraan raak om hul voertuie af te spuit voordat hulle in hul weivelde ingaan.

Suid-Afrikaanse boere oor groot gebiede heen het oor die afgelope tyd goeie reën gekry wat altyd goed is vir die toestand van die veld, asook die diere wat daarvan vreet. Hulle kon ook hul voorraadvlakke herstel ná hul droogteverliese.

Aan die negatiewe kant word daar van ʼn ekonomie in resessie gepraat, wat die koopkrag van die verbruiker gaan beïnvloed, wat weer ʼn negatiewe uitwerking op boere se winsgewendheid kan hê.

ʼn Goeie boerderyjaar sal dus gevolg word deur ʼn jaar waarin hul produkte se verkope swak is. Ek dink egter die hoë pryse ná die Covid-19-pandemie behoort nou te begin afkom, wat die druk op verbruikers sal verlig en verkope ʼn hupstoot gee.Die veebedryf sien ook uit na die inwerkingstelling van ʼn beter vleisgehalte-klassifikasiestelsel. Vleis word tradisioneel volgens ouderdom en die hoeveelheid sigbare vet gegradeer, maar daar was nog nooit ʼn sagtheidsgraad nie. Daar het egter nou ʼn paar goeie resultate uit proewe gekom wat op die gebruik van ʼn marmeringsindeks om sagtheid te gradeer, gebaseer is. Dié indeks is ontwikkel uit ʼn gemete persentasie binnespierse vet.

Die indeks word deur produsente gedryf wat ʼn hoër vleisgehalte produseer, as ʼn manier om hul produkpryse te differensieer en hul nismarkte beter te beskerm. Dit behoort sagte en gesonde vleissnitte soortgelyk aan Wagyu-vleis na die Suid-Afrikaanse mark te bring, wat sekerlik so gewild en net so gesog sal wees.

Tal-Tec is in Brits geleë en is ʼn spesialisvervaardiger van veebestuursprodukte.

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon