Landbou.com – Gee ons grond terug, eis LP van Lesotho | Landbou
Die aanspraak wat Lesotho op die Vrystaat en dele van vier provinsies van Suid-Afrika maak, spruit volgens politieke ontleders en landbou-organisies uit interne politieke woelinge.
’n Mosie is Maandag 12 Desember deur eerw. Tšepo Lipholo van die Basotho Covenant Movement (BCM) by die land se parlement ingedien waarin die hele Vrystaat, asook dele van die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal, Mpumalanga en die Noord-Kaap ingevolge artikel 1(2) van die land se grondwet as deel van die Koninkryk van Lesotho verklaar word, in ooreenstemming met die Verenigde Nasies se Resolusie 1817 (XVII) wat deur die Algemene Vergadering op 18 Desember 1962 geneem is.
Die mosie sal in Januarie of Februarie debatteer word, sê me. Neo Mokatsa, kommunikasiebeampte van die parlement. “Dit was veronderstel om vir ’n kennistydperk van drie dae te dien, maar die parlement het die 14de vir sy Kersfees-reses gesluit.”
Lipholo het volgens die aanlyn publikasie The Post gesê hy sal nie rus voordat die grense verander is nie. “Die Basotho behoort hul grondgebied terug te kry wat in die 19de eeu afgevat is.”
Hy is volgens dié berig die BCM se enigste parlementslid en dié party is die enigste een wat die herstel van Lesotho se sogenoemde geannekseerde gebiede ’n verkiesingskwessie gemaak het. Die parlement het 120 setels waarvan 40 indirek deur proporsionele verteenwoordiging aangewys word en die res deur direkte verteenwoordiging. Die land word op die oomblik deur ’n koalisie regeer nadat die nuutgestigte Revolution for Prosperity (RFP), wat die meeste stemme in die verkiesing van Oktober 2022 gekry het, nie ’n volslae meerderheid setels kon inpalm nie.
Staatkundige kwessie
Die voorgestelde mosie is dit ’n staatkundige kwessie wat deur Suid-Afrika se departement van internasionale betrekking en samewerking hanteer moet word, sê mnr. Janse Rabie, Agri SA se hoof van wetgewing en regsake.
“As Lesotho die saak verder voer, insluitend om dit na die Internasionale geregshof te neem, kan die hele proses baie jare duur. Internasionale grense word deur gewoontereg en internasionale verdrae gevestig, en in die geval van Lesotho en Suid-Afrika is hierdie grense lank reeds gevestig.”