Archives

Tot 15 000ha se graan binne een uur verwoes

Featured Ad


Erge hael en reën op 4 Januarie in die Hoopstad/Hertzogville-gebied het duisende hektaar se graan vernietig. Hoewel daar nog nie amptelike skadebepalings gedoen is nie, het boere en ander rolspelers in die landbou bereken dat tot 15 000ha se mielies, sojabone en sonneblom binne ’n uur deur die hael en verspoelings verwoes is.

Een van die boerderye wat hard getref is, is Johendrie-boerdery in die Hoopstad-distrik. Die boerdery behoort aan Tikkels Roos en sy seuns, Hennie en Adrie. Hennie sê hulle het op 4 Januarie 110mm harde reën met erge hael binne ’n uur gekry. Die hael en verspoelings het erge skade veroorsaak.

“Ons boerdery het 1 200ha se mielies, sonneblom en sojabone verloor as gevolg van die hael en die verspoelings,” sê Hennie. “Gelukkig lê ons plase redelik verspreid en nie al ons aanplantings is deur die hael vernietig nie,” sê Hennie. “Die gronde se waterprofiel is egter versadig en die meeste van ons gesaaides het ’n knou weg. Daar is al versuipskade op van die plase.”

Hennie sê dit is moeilik om die distrik se totale skade van 4 Januarie se reën en hael te bereken, omdat die paaie erg verspoel het en boere nie bymekaar kan uitkom nie. Hy het egter met mense by hul plaaslike koöperasie gepraat en saam het hulle bereken dat daar in die Hoopstad/Hertzogville-area tot 15 000ha se graan deur die hael en verspoelings vernietig is.

Een van die boerderye wat hard getref is, is Johendrie-boerdery in die Hoopstad-distrik. Die boerdery behoort aan Tikkels Roos en sy seuns, Hennie en Adrie. Die eerste twee video’s is net ná die reën/haelbui van 4 Januarie geneem, en wys hoe die water en hael deur die lande loop. Hennie sê die land wat daar gewys word, was onder sojabone wat alles weggespoel het. Die water het alles uit sy buurman se lande oor sy lande gespoel. Die derde video is die volgende oggend (5 Januarie) geneem en wys hoeveel water steeds uit die lande loop. Hennie praat op die video. Die vierde video wys spoelskade.

Smal strook loop erg deur

Andrew Roberts van die plaas Maize Valley, Hoopstad, reken ook die totale gebied wat erg deurgeloop het, kan tot 15 000ha wees. Sy boerdery het sowat 300ha se graan verloor.

“Dit was eintlik ’n ongelooflike klein reënbui wat nie wou klaar reën nie,” sê Andrew. Hy reken die strook waar die erge hael en reën voorgekom het, is sowat 5km lank en 1km breed.

“By my huis het dit maar 24mm reën en het ons ’n bietjie hael gekry en net ’n paar kilometer weg is alles verwoes. Ons het ook haelskade buite die strook gekry, maar nie so erg nie. Voorlopige ramings wys dat daar sowat 15% se skade op sommige aanplantings buite die strook is.”

Watertafelgronde erg geraak

Luan van der Walt, ’n ekonoom van Graan SA, sê die reën van 4 Januarie het in ’n gekonsentreerde gebied geval en groot skade veroorsaak. Dit is hoofsaaklik die watertafelgronde in areas soos Hoopstad, Wesselsbron, Bultfontein, Hertzogville, Christiana en Viljoenskroon wat erg deur vanjaar se buitengewone reënval geraak word.

Hy is nou besig met volledige opnames om te bepaal hoeveel skade die hael en reën veroorsaak het, en ook oor die algemeen die skade wat die huidige seisoen se buitengewoon hoë reënval veroorsaak het.

Andrew Roberts se boerdery het sowat 300ha se graan verloor. Die eerste video wys hoe versadig die grond is, en in die tweede video stap hy tot waar sy knie insak. Hy lewer lekker kommentaar – wys mielies wat weggeslaan is, hoe hy insak en ook sy bakkie in die pad wat heeltemal verspoel is.

“Die hele somersaaigebied is goed nat. Boere kon gelukkig die meeste van hul graan in die optimale plantvenster plant, maar die nat grond het veroorsaak dat van die graan laat geplant is. In sommige gebiede meer as in ander.”

Luan sê in sekere gebiede waar die grond baie nat was, soos rondom Delareyville en Sannieshof, het boere gesukkel om te plant. Daar is steeds boere in die Wes-Vrystaat en Noordwes wat hoofsaaklik sonneblom plant.

Wes-Vrystaat loop erg deur

Vrystaat Landbou het in ’n verklaring gesê dat 60% en dalk meer van gesaaides in die Wes-Vrystaat weens erge reën in gedrang is. Selfs al droog dit genoeg uit ná historiese rekord-hoë reënval in baie dele van die Vrystaat, is dit te laat om mielies, soja en selfs sonneblomme te herplant. Waar gewasse oorleef het, ding dit met sterk onkruidgroei mee. Van die kunsmis het met die baie reën weggespoel, wat duur blaarvoeding of top-bemesting vereis om ’n ordentlike oes te behaal. – Hugo Lochner, AgriOrbit

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon