Archives

Verklaar vloedgeteisterde gebiede tot rampgebied

Featured Ad


Verklaar distrikte in die vloedgeteisterde Wes-Vrystaat tot rampgebiede.

Persvrystelling

Dit is die pleidooi van Vrystaat Landbou (VL) en TLU SA nadat dit bevind is dat meer as 60% van gesaaides in dié streek deur erge vloedskade bedreig word.

TLU SA: skade noop deeglike bestekopname

Volgens Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, het hewige storms en groot neerslae dele van die Vrystaat en Noordwes vroeër die week getref. Tussen Christiana en Hertzogville is duisende hektaar se oeste beskadig en in sommige gevalle heeltemal vernietig. ‘n Geskatte oppervlakte van meer as 6 000 hektaar is heeltemal vernietig en TLU SA vra dat dringende stappe gedoen word om die impak van die ramp op boerderygemeenskappe te help verlig.

In ‘n skrywe wat aan die Vrystaatse departement van landbou gerig is, en waarin TLU SA vra vir rampgebiedverklaring, word daar voorts gevra vir dringende geldelike hulp aan boere wat die ergste getref is, ‘n opname van die geldelike impak en verlies wat die slagoffers gely het asook vir ‘n opname van skade wat aan provinsiale infrastruktuur soos paaie gerig is.

VL: dringende ingryping nodig

Jakkals le Roux, VL se verteenwoordiger vir die Nala-munisipaliteit wat groot mielieproduserende streke en Wesselsbron en Bothaville insluit, sê dringende ingryping gaan nodig wees om te help om vloedgeteisterde boere op hul grond te hou.

Volgens hom het skade voorgekom in die hele Lejweleputswa-distrik, wat dorpe soos Hertzogville, Bultfontein en Wesselsbron insluit. Dié distrik se rampbestuursbeampte is gevra om die omvang van die skade te bepaal en die kwessie sal volgende week deur die provinsiale regering bespreek word.

“Selfs al droog dit genoeg uit na die rekordhoë reënval in baie dele van die Vrystaat, is dit te laat om mielies, soja en selfs sonneblomme te herplant,” sê Le Roux en voeg by dat waar gewasse oorleef, dit mee ding met ‘n sterk onkruidgroei. Hy verduidelik dat alle kunsmis weggeloog het en dat dit duur blaarvoeding of bobemesting sal vereis om ‘n ordentlike oes te behaal.

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon