Archives

Suikerbelasting kan bedryf nóg 16 000 werksgeleenthede kos

Featured Ad


Foto: Johan van der Merwe

Die nasionale raad van provinsies moet nie versuim om die verwoestende impak van die suikerbelasting te noem wanneer sy afvaardiging KwaZulu- Natal vandeesweek besoek om die plaaslike ekonomie te bespreek nie, sê SA Suikerrietkwekers.

Mnr. Andrew Russell, voorsitter van SA Suikerrietkwekers, sê dié vereniging en ander belanghebbendes in die bedryf sal die bespreking van KwaZulu-Natal se plaaslike ekonomie op Woensdag 16 November en pres. Cyril Ramaphosa se toespraak op Vrydag 18 November bywoon.

Daar word beoog om die geleentheid te gebruik om ‘n beroep op die regering te doen om die suikerbelasting to beëindig ter wille van die meer as ‘n miljoen mense wat van die suikerbedryf vir ‘n inkomste afhanklik is.

“Met die kritieke kwessies met dienslewering wat die provinsie in die gesig staar, tesame met die onluste van Julie verlede jaar en die vloede in April vanjaar, is dit noodsaaklik dat die president en mnr. Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging, ingryp en help om werksgeleenthede in die beleërde provinsie te beskerm.”

Russell sê die raad besoek die provinsie op ‘n onsekere tydstip, spesifiek aangesien Tongaat Hulett, wat drie suikermeule in die provinsie bestuur, se plaaslike ondernemings onlangs onder sakeredding geplaas is. “Die bedryf het herhaaldelik die ekonomiese impak van die

suikerbelasting en die omvang van die risiko’s daarvan uitgelig. Dit het beslis ‘n rol in die Tongaat Hulett-krisis gespeel.”

 

Bewys oor impak op vetsugtigheid.

‘n Verslag deur die Suid-Afrikaanse raad vir ekonomiese ontwikkeling en arbeid (Nedlac) het bevind dat die suikerbelasting die bedryf in slegs sy eerste jaar meer as 16 000

werksgeleenthede en R2 miljard gekos het. “Boonop het die regering tot dusver nog geen bewyse gelewer dat die belasting ‘n gunstige impak op vetsugtigheid in Suid-Afrika gehad het nie.”

Russell vertel dat ‘n modellering wat in opdrag van SA Suikerrietkwekers gedoen is, voorspel het dat die belasting die bedryf ‘n verdere 16 000 werksgeleenthede kan kos. Mnr. Enoch Godongwana, minister van finansies, het egter in Februarie vanjaar aangedui dat hy van plan is om die suikerbelasting te verhoog, die drumpel vir die toepassing daarvan verlaag en dit ook op vrugtesappe van toepassing te maak.

“Terwyl hierdie beleidsbesluit met ‘n jaar vertraag is, moet die krisis by Tongaat Hulett as ‘n waarskuwing vir die nasionale regering dien oor die gevolge van die behoud daarvan – laat staan nog die verhoging daarvan.”

Volgens Russell is SA Suikerrietkwekers in noue samewerking met die regering en ander belanghebbendes in die bedryf om ‘n meesterplan vir die suikerrietwaardeketting te ontwikkel en toe te pas ten einde die toekomstige volhoubaarheid en winsgewendheid van die bedryf te verseker. “Hierdie plan sal egter nie slaag indien die suikerbelasting in sy huidige vorm voortduur of, nog erger, volgende jaar verhoog word nie.

“Ten einde die oorlewing van die bedryf te verseker en die inkomste van die land se kwekers, meulenaars en waardekettingvennote te beskerm, moet die regering hierdie werkdodende belasting tersyde stel.”

 
Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon