Archives

Suikerbedryf uiters bekommerd oor belasting

Featured Ad


Landbou.com – Suikerbedryf uiters bekommerd oor belasting | Landbou

 

Suid-Afrika se suikerbedryf is onseker oor sy toekoms nadat die nasionale tesourie versuim het om deel te neem aan besprekings oor sy voorgestelde veranderinge aan die gesondheidsbevorderingsheffing, oftewel suikerbelasting, op suikerversoete drankies. Mnr. Enoch Godongwana, minister van finansies, lewer sy 2023-begrotingsrede op 22 Februarie.

 

Landbou.com het al herhaaldelik berig hoe die reeds finansieel sukkelende suikerrietwaardeketting se situasie verder versleg het deurdat die waardeketting sedert die intselling van dié belasting in 2018 sowat R6 miljard se inkomste verloor het. Dié belasting is aanvanklik ingestel om nasionale suikerverbruik te laat verminder as deel van pogings om te help om Suid-Afrika se vetsugprobleem hok te slaan. Bedryfskommentators het egter dikwels al opgemerk dat die suikerbedryf bloot ’n maklike teiken was vir ’n regering wat desperaat probeer om sy steeds kwynende fiskale hulpbronne te versterk.

 

Mnr. Trix Trikam, uitvoerende direkteur van die Suid-Afrikaanse Suikervereniging (SASV), sê dat Godongwana vroeg in 2022 voorstelle aangekondig het om nie net die suikerbelasting te verhoog nie, maar ook om die drempel vir die belasbare suikerinhoud van suikerversoete drankies te verlaag en boonop om die belasting uit te brei om vrugtesappe waarby suiker gevoeg is, in te sluit. Godongwana het hom glo daartoe verbind om besprekings hieroor met die bedryf te belê, maar volgens Trikam is die begrotingsrede om die draai en die gesprek het nog nie plaasgevind nie.

 

“Die koms van die suikerriet-waardekettingmeesterplan was ’n deurslaggewende ingryping wat daarop gemik was om die bedryf te stabiliseer en dit uiteindelik op ’n opwaartse trajek te plaas en te help om sy volle potensiaal te bereik. Terwyl die meesterplanprosesse tans ontvou, sal dit raadsaam wees dat enige beleidsbesluite wat verdere nadelige druk op die bedryf sal plaas, vermy word. As sodanig sal enige verhoging in die koers van die suikerbelasting en verlaging van die huidige belasbare drempel die bedryf vernietig.”

 

Onlangse navorsing deur die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP) in opdrag van die SASV beklemtoon ’n reeks verwoestende gevolge vir Suid-Afrika se suikerrietwaardeketting as Godongwana en die tesourie die bedryf se pleidooie dat die suikerbelasting vir die volgende drie tot vyf jaar onveranderd gehou moet word, ignoreer. Dit sal dié waardeketting die finansiële en navorsingsruimte gee om die inkomste-diversifikasie-opsies te ontwikkel wat dit nodig het om te oorleef en te groei.

 

Me. Sandy Jackson, BFAP se hoof van landbou-maatskaplike ekonomie, het op ’n media-inligtingsessie gesê die navorsing het bevind dat veranderinge aan die huidige suikerbelasting wat daarop gemik is om die plaaslike vraag en verbruik van verfynde wit suiker verder te verminder, aansienlike nadelige gevolge vir die suikerrietverwerkingsektor, -kwekers en die landelike ekonomie inhou.

 

“Daar word beraam dat as die reikwydte en omvang van die suikerbelasting verhoog word, verkope van verfynde suiker met altesaam 160 000 ton oor ’n tydperk van twee jaar sal daal namate herformulering deur koeldrankvervaardigers voortduur. ’n Afname van hierdie omvang is gelykstaande aan die uitset van een van die vier raffinaderye wat tans in bedryf is, en is gelyk aan die produksie van onverwerkte suiker, wat vir raffinering toegewys is, van twee van die twaalf oorblywende plaaslike suikermeulens.”

 

Trikam sê Suid-Afrika het 14 suikermeulens gehad het voordat die suikerbelasting ingestel is. Sedertdien het twee gesluit, wat die 12 laat waarna Jackson verwys.

 

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon