Archives

Saai suksesvol teen Departement van Mineraalbronne en Energie se verbod

Featured Ad


Die Suider-Afrika Agri Inisiatief (Saai) het suksesvol druk uitgeoefen op die Departement van Mineraalbronne en Energie om sy verbod op die kleinhandelverkope en verspreiding van petrol en diesel in houers terug te trek.

https://agtag.co.za/category/14/post/30411

Ná die nasionale onluste en plundering in Julie 2021 het die Departement regulasies uitgevaardig wat die verspreiding van petrol en diesel in houers verbied het. Op 15 Julie 2021 het Saai se prokureurs aan die Minister geskryf en gevra dat die irrasionele regulasies dringend teruggetrek word. Op 16 Julie 2021 het die Minister aangekondig dat die regulasies teruggetrek sal word. Dit is egter nooit gedoen nie.

Gevolglik het Saai se prokureurs op 22 Julie 2021 en 4 November 2021 weer aan die Minister geskryf en hom versoek om die Departement se belofte gestand te doen en die regulasies terug te trek. In Desember 2021 het Saai hofstukke teen die minister uitgereik om die terugtrekking van die regulasies af te dwing.

Nadat Saai se hofstukke formeel aan die minister beteken is, het hy die terugtrekking van die regulasies in die Staatskoerant aangekondig.

“Die onrus is nou lankal iets van die verlede. Brandstofvoorraad in die land is lankal stabiel. Daar is nie meer ‘n behoefte aan enige beperking nie. Die verbod het reeds ‘n nadelige uitwerking gehad op die bedrywighede van baie boere wat nie soos voorheen brandstof in houers kan koop nie. Dit is jammer dat ons op die ou end die hof moes nader om die Departement te dwing om hierdie irrasionele en nadelige regulasies terug te trek,” sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai.

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon