Archives

Buiteperd kraai koning by die baler- en hooidag

Featured Ad


Die opwindende balerwedstryd het weer boere van regoor die land na ՚n plaas buite Parys in die Vrystaat gelok om self te kyk watter baler vanjaar koning kraai. Die balers het weer kop aan kop geloop en die spanning was hoog.

Die spogdag is aangebied deur FarmSpace in samewerking met King Price — Pay As You Farm. Vanjaar se kompetisie is bietjie anders benader: Een van die nuwe reëls verskuif die mikpunt van die swaarste baal maak na presisie. Die een wat ՚n gemiddelde baal van 270 kg kan behaal, stap weg met die prys.

 

Links en regs is trotse kliënte, Erik Snyman en Henk Colyn, saam met Lee-Ann Alexander, verteenwoordiger van Gallagher.

՚n Algehele punt uit 100 (verdeel as 75 vir gemiddelde baalgewig en 25 vir spoed) het bepaal watter baler met die louere wegstap.

Met hierdie nuwe benadering moes deelnemers behoorlik uithaal en wys. “Die reëls wat verander het met die beperking op die gewig van die baal was ՚n uitdaging,” het Robbie Hall van Massey Ferguson voor die kompetisie gesê. “Hier is nie een teenstander wat swakker is nie. Die ratoorskakeling of die aantal bale is wat die wenner of verloorder gaan onderskei.”

Vermeer vir meer presisie

Bertus Barkhuizen en Marcel du Plessis was agter die stuur vir die Vermeer-span.

Dewald Janse van Rensburg, Jaco du Preez en Louis Fourie van die New Holland-span.

Hierdie jaar het ՚n buiteperd die wenplek beklee. Die Vermeer 403 Pro-baler het sy staal gewys en volpunte behaal. Die tweede plek is ook deur Vermeer verower met hulle 504R Premium-baler wat 92,63 punte behaal het. “Hierdie Vermeer is die lelike eendjie in die galery van balers, maar op die einde van die dag gaan dit oor wat hy doen,” verduidelik Marcel du Plessis van Northmec Implemente.

Op Vermeer se hakke was New Holland met ՚n totale puntetelling van 91,57

“Hierdie dag wys watter vervaardiger ken sy baler die beste,” sê Timo van der Vyver, gebiedsbestuurder van Kempston Agri. “Dit verg nie net van die trekkeroperateur om goed te doen nie, maar eerder dat die hele span op die grond, van die persoon wat verstellings aanbring tot die tegniese personeel, moet saamwerk om die teiken te haal.”

Van links: ՚n Ondersteuner van Algar, Louis van der Westhuizen, saam met Jonathan Toxopeus en Jake Botha wat verteenwoordigers van die maatskappy is

Valtrac Suid-Afrika het die bekende baler- en hooidag drie jaar gelede die lig laat sien, toe hulle op soek was na ՚n unieke manier om Kuhn-balers aan boere bekend te stel. Devin Dedwith, tegniese assistent van Valtrac, verduidelik: “Ons het gedink daar is nie ՚n beter manier as om ՚n lekker boeredag te hou en sommer ՚n kompetisie daarvan te maak nie.”

Arthur Bezuidenhout, hoofuitvoerende beampte van Jupidex, vertel oor die instelling van hulle McHale-baler: “Natuurlik is dit moeilik omdat die vog verskil op verskillende gebiede waarop ons gewerk het — maar daar is baie maniere waarop jy dit kan teëwerk.”

Die Krone-span was weer terug — dié keer met die V180-model. “Ons baler is nie goedkoop nie, maar as jy groot bale maak, groot hoeveelhede hooi maak en baie bale maak is hierdie baler se kapasiteit definitief die beste,” verklaar Willie Human, takbestuurder van Rovic Leers, Johannesburg.

Xander Pieterse, hoofbemarker van ProAgri, saam met die verteenwoordiger van Rovic Leers, Pieter de Witt.

Die verkoopsverteenwoordigers van Obaro, Jurie Robbertse en Steven Cave, het vanjaar se King Price en FarmSpace baler- en hooidag bygewoon.

Erik Rautenbach, direkteur van Orbach Agri, is baie trots op die Z562 baler wat hulle gebring het. “Balers moet bekostigbaar wees. Dit moet sterk gebou wees en dit moet maklik herstel kan word as daar iets verkeerd gaan — dit is gereedskap, dit gaan breek.”

Die toeskouers en deelnemers het beslis die dag geniet en daar was goeie sportmanskap van al die deelnemers se kant af.

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon