Archives

Chaos met vuurwapenlisensies knou jagbedryf

Featured Ad


Die gesloer van tot meer as twee jaar met die hernuwing van bestaande vuurwapenlisensies, die uitreiking van bevoegdheidsertifikate en nuwe vuurwapenlisensies knou die wildbedryf in die algemeen en die jagbedryf in die besonder, en frustreer jagters wat nuwe vuurwapens gekoop het.

Jag is meer as net die skiet van ’n bok.

Talle aansoeke om bestaande vuurwapenlisensies te hernu sloer al twee jaar en langer, en ’n jagter wat ’n nuwe geweer aanskaf, kan van twaalf tot 18 maande, en selfs langer, vir ’n lisensie wag, voordat hy met die nuwe geweer kan gaan jag.

Daar word beweer dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se sentrale vuurwapenregister in totale chaos en wanorde verval het, en by die polisiestasies en provinsiale owerhede gaan dit nie beter nie. Die toestand is in die afgelope twee jaar deur die Covid-19-pandemie en die feit dat die eenheid na ʼn nuwe gebou verhuis het, vererger.

Ná ʼn besoek aan die SAPD se vuurwapenregister verlede jaar, het dr Pieter Groenewald van die Vryheidsfront Plus gesê die polisie erken daar is ʼn agterstand van sowat 250 000 aansoeke om vuurwapenlisensies. Stapels aansoekvorms het glo op hope in gange en kantore gelê.

Impak op die plaaslike jagbedryf

Fred Camphor, hoof uitvoerende beampte van die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SAJWV), bevestig dat die situasie kommerwekkend is, die wildbedryf seermaak en dit vir jagters moeilik maak om hul sport te beoefen.

Die jagbedryf is tot nou toe die belangrikste pilaar wat die hele wildbedryf ondersteun. Wildtelers voorsien hoofsaaklik teeldiere vir trofee- en biltongjag. Die wildsvleis- en ekotoerismebedryf is nou nog kwalik sterk genoeg om die groot beleggings wat wildtelers gemaak het, te regverdig.

Daarom is die gesloer met vuurwapenlisensies so ʼn groot bekommernis. Die agterstand vir bevoegdheidsertifikate en die uitreiking van nuwe vuurwapenlisensies is tans tussen twaalf en 18 maande en langer. Dat daar wel enkele gevalle is waar ʼn aansoeker sy lisensie ná sowat drie weke kry, is ʼn geval van ʼn blinde hoender wat ook soms ʼn pit raak kan pik, meen Fred.

Hernuwings van bestaande lisensies kan tot twee jaar duur. Fred sê hy het self in Oktober 2019 ʼn hernuwingsaansoek ingedien, en eers op 15 Januarie 2022 ʼn SMS-boodskap ontvang dat die nuwe lisensie gereed is. Daarby beloop die goedkeuring van bevoegdheidsertifikate, wat nodig is voor jy aansoek vir ʼn lisensie of die hernuwing daarvan kan doen, van twaalf tot 18 maande.

Covid-19 en verhuising van kantore vererger die agterstand

Hy sê die probleem begin by talle polisiestasies, provinsiale kantore van die vuurwapenregister en die sentrale vuurwapenregister, waar aansoeke by elke punt kan vashaak. Die Covid-19-pandemie het dié probleme vererger. Wanneer ʼn lid van die personeel by enigeen van dié punte die siekte opdoen en positief daarvoor toets, sluit die hele eenheid vir 14 dae. Die werk staan dan stil, aansoeke hoop verder op en die wanorde raak erger.

Daarby het die sentrale vuurwapenregister onlangs na ʼn nuwe gebou verhuis. Die hope aansoeke wat nie behoorlik geliasseer was nie, is waarskynlik in ʼn groter chaos in die nuwe gebou geberg, wat die verwerking daarvan moontlik verder kan vertraag.

Risiko’s vir jagters

Dit is weliswaar só dat ʼn bestaande vuurwapenlisensie ná die vervaldatum geldig bly as die aansoek om hernuwing betyds ingedien is, maar in die praktyk skep dit probleme. Wanneer ʼn mens aansoek doen vir die hernuwing van ʼn lisensie, kry jy ʼn kwitansie wat bevestig dat die aansoek ingedien is. Op die kwitansie is daar egter geen besonderhede van die vuurwapen nie.

As ʼn jagter dan sy geweer inpak vir ʼn jagtog en die kwitansie gereed het wanneer die polisie hom voorkeer, kan die polisiebeampte egter besluit dat die geweer ongelisensieer is en die jagter in hegtenis neem. In die hof word die saak gewoonlik uitgegooi, maar die naweek in ʼn polisiesel is dan gedane sake. Dit maak voornemende jagters lugtig, en hulle bly liewer tuis as om die risiko van ʼn tronknaweek eerder as ʼn jagnaweek te loop.

Die SAJWV poog voortdurend om die situasie te help beredder en het die saak al onder die aandag van president Cyril Ramaphosa gebring. Die lig in die tonnel lyk egter eerder na ’n treinongeluk wat nie gou opgeruim kan of gaan word nie, sê Fred. – Andries Gouws, AgriOrbit

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon