Archives

Rooibosteeboere neem beheer van eie sake

Featured Ad


Maroela Media – Rooibosteeboere neem beheer van eie sake | Maroela Media

 

ʼn Organisasie om die belange van rooibosboere te bevorder, die Rooibosteeprodusente-vereniging, is onlangs op die plaas Marcuskraal buite Citrusdal gestig. Dié boere het gevoel dat daar sekere aspekte van hul bedryf is waarin hulle nie genoeg insae het nie en dat dit ʼn groot probleem word.

 

Maroela Media het by Werner Nieuwoudt, die nuwe voorsitter en die persoon wat die stigting gedryf het, gaan uitvind watter uitdagings daar in die rooibosbedryf is wat aandag verg.

 

“Dít is ʼn liggaam wat groot- en kleinboere verteenwoordig,” sê hy. “Ons het nou die punt bereik waar ons gesê het ons moet onsself beter organiseer, want anders is ons uitgelewer. Daar was ʼn vakuum vir ʼn spreekbuis gewees vir die om en by 300 grootboere en heelwat kleinboere om uit een mond met rolspelers te praat oor die kwessies wat ons bekommer as ʼn primêre aandeelhouer in die bedryf.”

 

Nieuwoudt sê boere moet byvoorbeeld insae kry in navorsing wat tans sonder die insette van die primêre produsent gedoen word.

 

Nog ʼn groot uitdaging is die wisselvalligheid in die bedryf en die pryse wat dramaties wissel.

 

“Die rede is dat rooibostee ʼn niebederfbare produk is en hoe langer dit geberg word, hoe beter word sy sensoriese gehalte. Wanneer die prys reg is, sal kopers hul skure volmaak en dan sal hulle vir lang tye nie koop nie, wat die pryse skerp laat daal,” sê hy.

 

“Boonop plant boere baie rooibos aan wanneer die pryse hoog is en sit dan met ʼn groot oorskot wat dan spotgoedkoop verkoop moet word.

 

“Ons is nie ʼn organisasie wat met markkragte wil inmeng nie, maar ons hoop om meer deursigtigheid te kry en meer inligting te bied, wat ons boere kan help om beter besluite te neem. Ons mark soek ook meer sekerheid oor die bedryf.”

 

Hierdie wisselvalligheid in die prys maak dit moeilik vir nuwe toetreders om vastrapplek in die rooibosbedryf te kry, want niemand wil in ʼn onstabiele bedryf belê nie.

 

“Dit is waarom ons saam met die ander rolspelers om ʼn tafel wil sit om hierdie probleem uit te pluis.

 

“Aan ons kant sal ons ons buffervoorraad moet bepaal om prysskommelinge te absorbeer.”

 

Nieuwoudt sê toe die Rooibosraad in 1998 ontbind is, het ʼn maatskappy, Rooibos Bpk., daaruit voortgevloei waarin boere aandeelhouding gehad het en vandag is dit een van die grootste verwerkers in Suid-Afrika.

 

“Intussen het daar ander rolspelers in die bedryf gekom en daar is toe een of twee keer probeer om slegs die produsente in ʼn organisasie te verenig, maar dit het gesneuwel weens die statutêre heffing wat op rooibos geplaas is.

 

“Daar bestaan wel ʼn Rooibosraad, maar sy primêre fokus is op die navorsing in gesondheidsfaktore, die mark en die beskerming van die verbruiker.”

 

Die Rooibosteeprodusente-vereniging het sy streek in 13 substreke gedeel, vanaf die noordelike kant by Nieuwoudtville tot in die suide by Hopefield en Porterville. ʼn Verteenwoordiger vir elke streek is genomineer om elkeen se eiesoortige uitdagings te hanteer. Die voorsitter, ondervoorsitter en twee dagbestuurslede is ook tydens die stigting verkies.

 

“Agri-Wes-Kaap het ons gehelp met die organisering en om formele netwerke op te stel sodat ons tot op grondvlak met ons boere kan kommunikeer.”

 

Rooibos is besonders in die opsig dat dit geografies beperk is tot die winterreënvalstreek binne-in die fynbos-bioom wat oor die Wes- en Noord-Kaap strek.

 

Dié bedryf is dus baie klein, maar Nieuwoudt sê die potensiaal is feitlik onbeperk.

 

“In rowwe terme word die helfte van rooibos wat geproduseer word, in Suid-Afrika verbruik en die res in die buiteland. Die mark daar buite is uiters groot en bied ʼn uitstekende geleentheid in die rooibosteebedryf,” sê Nieuwoudt.

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon