Archives

Minder poste in landbou is ‘kommerwekkend’

Featured Ad


Maroela Media – Minder poste in landbou is ‘kommerwekkend’ | Maroela Media

 

Agri SA is besorg oor die afname in indiensneming in die landboubedryf, soos aangekondig deur Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) se kwartaallikse syfers vir die vierde kwartaal van 2022. Die verslag toon ʼn afname van 12 000 poste in die landboubedryf.

 

“Alhoewel die werksverliese tans marginaal is, wys dit op die toenemende uitdagings vir boere,” sê Johan Wege, voorsitter van Agri SA se sentrum vir uitnemendheid oor arbeid. “Die bedryf het merkwaardig weerstandig gebly en was onder die bes presterende bedrywe tydens die Covid-19-pandemie. Die gety draai egter vir een van die land se mees arbeidsintensiewe sektore – stygende insetkoste, endemiese beurtkrag en infrastruktuur wat ineenstort, plaas groot druk op die landboubedryf.”

 

Wege sê die ondernemings wat die president in sy jongste staatsrede gemaak het, moet onmiddellik ʼn prioriteit wees om te help om poste te red en die land se voedselsekerheid te waarborg.

 

“Duidelikheid is ook nodig oor die regulasies wat die minister van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) aangekondig het om die voortslepende kragkrisis binne die ramptoestand te pak. Alhoewel voedselvervaardiging en -berging as noodsaaklike infrastruktuur ingesluit is, is besonderhede nodig oor wat dit behels en watter verligting dit vir boere sal bring.”

 

Die verlenging van die dieselheffingskorting moet ook vergesel word deur die vinnige prosessering van eise en ʼn vermindering in die veeleisende burokratiese rompslomp wat die stelsel lamlê, voeg Wege by. “Dit is die enigste manier hoe die voortgesette las van beurtkrag op boere verlig kan word en noodsaaklike landbouposte beskerm kan word.”

 

Hy sê dringende stappe is nodig om dié bedryf te beskerm.

 

“Agri SA bly verbind daartoe om seker te maak die bedryf word ondersteun sodat ons voedselsekerheid kan bly verskaf en die lewens van Suid-Afrikaners in ʼn baie moeilike tyd kan red.”

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon