Archives

Pluimveebedryf spartel, maar hou kop bo water

Featured Ad


Maroela Media – Pluimveebedryf spartel, maar hou kop bo water | Maroela Media

 

Die Suid-Afrikaanse pluimveevereniging (SAPV) sê plaaslike hoenderstorting bied een van die grootste hoofbrekens vir dié bedryf omdat boere nie teen gesubsidieerde pryse van elders kan meeding nie. Verlede jaar het Ebrahim Patel, minister van handel en nywerheid, in mededinging nie die teenstortingregulasies teen Brasilië, Denemarke, Ierland, Pole en Spanje weer afgekondig soos verwag en gehoop is nie.

 

Izaak Breitenbach, uitvoerende hoof van die SAPV, sê daarbenewens het die pluimveebedryf verlede jaar deur diep waters gegaan weens die Rusland-Oekraïne-konflik wat ʼn skerp toename in die prys van voer en insette soos energie, kunsmis en ander landboukommoditeite meegebring het.

 

Voëlgriep-uitbrekings in die laaste helfte van verlede jaar het beteken dat Suid-Afrikaanse produsente nie teen die pluimveesektor-meesterplan (PSMP) se nuutgeskepte mikpunt van 22,5 miljoen eenhede per week kan slag nie.

 

Weens fase 5-beurtkrag en hoër wat afgekondig is, het die gemiddelde prys vir ʼn boer om ʼn hoender te produseer (wat gelukkig genoeg is om nog sake te kan doen) met R0,75/kg verhoog.

 

Gebrekkige staatsinfrastruktuur veroorsaak ook dat hoenderboere onder meer met logistieke probleme worstel.

 

“Die pluimveebedryf is die naasgrootste subsektor naas mielies in Suid-Afrikaanse landbou en word as ʼn strategiese nasionale bate van R56 miljard gereken. Meer as 50 000 mense word regstreeks deur die bedryf in diens geneem, met baie meer wat verder af in sy geïntegreerde waardeketting werksaam is,” sê Breitenbach.

 

Volgens die SAPV is die bedryf se sterkpunt dat dit noemenswaardig tot voedselsekerheid bydra, aangesien hy ʼn bekostigbare bron van proteïen op Suid-Afrikaanse verbruikers se tafels plaas; in 2021 het dit uit 66% van dié land se algehele vleisverbruik bestaan.

 

Ondanks hierdie uitdagings is daar beduidende beleggings in die bedryf gemaak ná die ondertekening van die pluimveesektor-meesterplan (PSMP) in 2019. ʼn Teiken van R1,5 miljard is vir einde 2023 gestel. Hierdie teiken is reeds oortref met meer as R1,8 miljard wat teen die einde van 2022 belê is, met ʼn bykomende R600 miljoen wat teen die einde van 2024 belê moet word.

 

Pluimveeproduksie het van 19,7 miljoen voëls per week vergroot om sy teiken van 22,5 miljoen voëls per week te haal.

 

Die PSMP het ʼn teiken van 3 600 nuwe poste vanaf 2019 tot 2022 gestel. Altesaam 1 900 nuwe werksgeleenthede is wel in die pluimveesektor geskep en die Voervervaardigingsvereniging (AFMA) het gemeld dat ʼn bykomende 2 000 werksgeleenthede regdeur die waardeketting geskep is en dit sal na verwagting toeneem tot 2 600 teen die einde van 2024, wat ʼn wesenlike toename is.

 

Suid-Afrikaanse produsente bly wel mededingend en in ʼn verslag wat deur die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP) opgestel is, is daar getoon dat hulle ʼn kilogram hoendervleis teen ʼn laer koste as Europese produsente in lande soos Nederland, Pole en Duitsland kan produseer. Selfs al word voëlgriepbeperkings opgehef, behoort Suid-Afrika steeds met Europese produsente te kan meeding.

 

Vooraanstaande uitvoerders soos die VSA en Brasilië produseer egter teen ʼn laer koste as Suid-Afrika. Die verslag sê wel dat hierdie verskil met Brasilië en die VSA in 2021 relatief tot 2017 afgeneem het.

 

“Aangesien relatiewe mededingendheid teenoor Brasilië en die VSA verbeter, veral in die lig van die PSMP se doelwit om uitvoere te laat groei, sal toekomstige strategieë sulke punte in hul wêreldwye bemarking- en karkaswaardasiestrategieë in ag moet neem.”

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon