Archives

Riglyne vir optimale lamvoeding

Featured Ad


Agri Orbit – Riglyne vir optimale lamvoeding – AgriOrbit

 

Op ’n kommersiële skaapplaas is lammers die geldmakers, en moet hulle dus baie goed versorg en hanteer word. Daar is ’n fyn lyn tussen wanneer ’n lam ekstra voeding moet kry en wanneer nie.

Lakterende ooie wat goeie voeding ontvang se melkproduksie begin gewoonlik teen vier weke ná lam progressief afneem. In dieselfde tyd begin die lammers se voedingsbehoeftes toeneem, omdat dit ’n belangrike groeityd is en hulle gemiddeld tussen 350 en 400g per dag in gewig toeneem. Om beter winste uit die lammers te genereer, behoort produsente die uitstekende voeromsetvermoë van lammers te benut deur ekstra voeding te voorsien.

Danie van Niekerk, tegniese ondersteuningsbestuurder by Virbac, sê die produksiestelsel, tesame met omstandighede wat die produsent nie kan beheer nie, bepaal die lammers se voedingsplan.

Lees meer oor die belangrikheid van goeie genetika in die skaapbedryf hier.

 

Beplan reg

“Hoe vroeër die lam gespeen word, byvoorbeeld in ’n versnelde lamstelsel, hoe vroeër moet ekstra voeding soos kruipvoer gegee word,” sê Danie. “In ekstensiewe stelsels en waar ooie se melkproduksie optimaal is, is ekstra voeding waarskynlik nie nodig nie, maar wanneer die omstandighede ongunstig raak of die ooie se melkproduksie baie daal, kan aanvullende voeding vir die lammers gegee word.

“In spesiale omstandighede, soos wanneer lammers weens droogtetoestande vroeg gespeen word, moet hulle ekstra voeding kry om so swaar as moontlik te wees met speen. Lammers wat geleer het om uit ’n voerbak te vreet, ervaar ook minder speenskok.”

Hy verduidelik verder dat die ekstra voeding wat lammers inkry van hoë gehalte en smaaklik moet wees om inname te stimuleer en groei te verseker. Dit moet ook hoogs verteerbaar wees, moet hoë-gehalte proteïen met ’n hoë verbyvloeiproteïenfraksie bevat, asook ’n hoogs verteerbare veselbron soos goeie gehalte lusern.

“Hoe jonger die lammers, hoe beter is hul voeromsetvermoë. Die duimreël in die kilogram-verhouding van voer tot liggaamsmassa is ongeveer 1:1 op ouderdom een maand, 3:1 op twee maande, 4:1 op drie maande en 5:1 op vier maande.

 

Verbeter voeromsetvermoë

Danie sê sekere faktore kan deur die produsent beheer word om die lam se voeromsetvermoë te verbeter, terwyl hy minder beheer oor ander faktore het. “Voeromset is inherent geneties vasgelê, maar die gehalte en digtheid van die voer speel ’n deurslaggewende rol om voeromset te optimaliseer. Hoe hoër die gehalte en hoe meer voedingstowwe per kilogram voer ingeneem word, hoe beter behoort die voeromset te wees. Laergehalte voer wat baie ruvoer bevat, sal inname en groei belemmer,” meen hy.

Dit is ook belangrik dat voer gebalanseerd moet wees in terme van voedingstofsamestelling, sê hy. Dit help ook dat speenlammers ’n groot raam ontwikkel en nie noodwendig vet is nie. Die voorspeense voer moet dus nie te veel energie bevat nie, maar eerder hoë-gehalte proteïen om raam- en spiergroei te bevorder.

 

Voedingsprogramme vir lammers

Om swaar lammers te bemark is natuurlik die ideaal, en verskeie voedingsprogramme is beskikbaar om dít te bewerkstellig. Danie sê daar is egter ’n paar faktore wat altyd in gedagte gehou moet word by die opstel van ’n voedingsprogram vir lammers.

Eerstens is dit noodsaaklik dat die lammers so gou as moontlik na geboorte gehalte biesmelk inkry. Dit bied die lam ’n goeie wegspring wat immuunfunksie betref. Die tweede faktor is die melkproduksie van die ooie. Ooie wat goed versorg word en genoeg gehalte voeding tydens laatdragtigheid ontvang, se uierontwikkeling en melkproduksie sal van so ’n aard wees dat hulle goed vir hul lammers kan sorg en hulle help om vinnig en doeltreffend te groei.

Sodra die melkproduksie van die ooie begin afplat en die lammers meer op eksterne voeding soos weiding of kruipvoer aangewese raak, moet die lammers reeds blootgestel en gewoond gemaak wees aan die voer. “Sekere weidings – veral aangeplante weiding onder besproeiing – mag dalk goed lyk, maar kan swak groei tot gevolg hê weens ’n hoë voginhoud. Dit veroorsaak dat die lam se inname van voedingstowwe beperk word en ’n energie/proteïenwanbalans kan ontstaan,” verduidelik hy.

 

Kruipvoeding

Dit hier is waar hoë-gehalte kruipvoer ’n groot rol kan speel om die groei van lammers te optimaliseer. Danie se raad is om van wetenskaplik geformuleerde kruipvoer gebruik te maak om die beste resultate te kry. “Kruipvoer behoort ’n proteïeninhoud van 16 tot 18% te hê, met ’n goeie aminosuursamestelling (essensiële aminosure). Daarmee saam moet dit ’n beperkte hoë-gehalte ruvoer soos fyngemaalde, blaarryke lusern insluit, asook ’n graankomponent vir energie, spoorelemente, vitamiene en kosidiostaat.”

Hy voeg by dat indien ’n produsent sy eie hulpbronne wil gebruik, hy eerder ’n makropak voermengsel by die hulpbronne moet insluit om belangrike voedingstowwe te voorsien en die kruipvoer te balanseer.

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon