Archives

Laer brandstofpryse bring verligting vir boere

Featured Ad


Landbou.com – Laer brandstofpryse bring verligting vir boere | Landbou

 

Diesel met ’n swaelinhoud van 0,05% word Woensdag 268,9c/liter goedkoper, diesel met swaelinhoud van 0,005% 280,9c/liter en 93 en 95 oktaan-petrol 206c/liter.

Die faktore wat tot die verlaging bygedra het, sluit in laer Brent-ruoliepryse, die effense versterking van die rand teenoor die Amerikaanse dollar en die oorverhaling op petrol en diesel einde November.

Mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, sê boere is uiteraard dankbaar dat hulle minder vir brandstof, veral diesel, kan betaal. Ongelukkig is dié verlagings te laat vir die meeste aanplantings van 2022-’23-somergewasse.

“Ons moet besef die onstabiliteit in Eskom se kragvoorsiening en die koste daarvan is ’n groter probleem vir die landbou. Ons verstaan die nasionale energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) sal in Januarie besluit of kragtariewe met 32% gaan verhoog. Dit sal vir die landbou onbetaalbaar duur wees. Vanjaar gaan die minimum loon boonop ook verhoog.

“Dié hele pakkie maak dat ’n boer vandag baie, baie fyn berekeninge moet maak om steeds winsgewend te wees”.

Mnr. Christo van der Rheede, uitvoerende hoof van Agri SA, verwelkom die laer dieselpryse, maar sê die verlaging “help nie veel nie” omdat boere nou baie meer diesel moet koop om hul kragopwekkers aan die gang te hou.

“Ons het groot probleme op die oomblik in die landbousektor weens beurtkrag. Beurtkragvlakke 4, 5 en 6 ruïneer die winsgewendheid van die hele landbousektor. Daarom is ons in gesprek met mnr. Enoch Godongwana, minister van finansies, om te kyk na verdere verligting vir die landbousektor ten opsigte van dieselaankope. Ons soek ’n hoër rabat op diesel.”

Hy wys daarop dat boere kragopwekkers nie net vir besproeiing moet gebruik nie, maar ook ander noodsaaklike take, soos die voer van pluimvee en ander vee, en om melk en ander bederfbare landbouprodukte af te koel.

Mnr. Corné Louw, hoof van toegepaste ekonomie en lededienste by Graan SA, sê dieselaankope maak ongeveer 13% van ’n graanboer se produksiekoste uit. Die prysverlagings is dus “uitstekende nuus” vir nie net graanboere nie, maar vir alle Suid-Afrikaanse boere en vir die nasionale ekonomie.

“Diesel is belangrik vir die hele landbouwaardeketting,” sê hy. “Die prysdaling daarvoor sal die groothandelprys van diesel in Gauteng nou net bo R21/liter laat teenoor R17/liter die ooreenstemmende tyd verlede jaar. Diesel steeds duurder as verlede jaar, maar hierdie daling is van onskatbare belang vir die hele ekonomie en vir die graanbedryf.”

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon