Archives

Boere maak kapsie teen kragverhoging

Featured Ad


Maroela Media – Boere maak kapsie teen kragverhoging | Maroela Media

 

Die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) se moontlike aanvaarding van Eskom se versoek van ʼn verhoging van 32,66% in elektrisiteit vir die 2023/’24-boekjaar is een verhoging te ver vir landbou in Suid-Afrika.

TLU SA glo dat sou dié verhoging goedgekeur word, dit die doodskoot vir verskeie boere in die land sal beteken.

Nersa sal eers volgende jaar die elektrisiteitstariewe vir die komende boekjaar aankondig nadat die Gautengse hooggeregshof ingestem het om Nersa tot 12 Januarie uitstel te gee.

Henry Geldenhuys, president van TLU SA, sê weens die dringendheid van die saak gaan hy ʼn skrywe aan die minister van energiesake en die tesourie rig.

“Die realiteit is landbou kan nie die verhoging bekostig nie, daarom kan die verhoogde tariewe nie net aanvaar en laat gaan word nie,” sê hy.

“Boere moet reeds verhoogde pryse van diesel en kunsmis, wat in sommige gevalle met 150% verhoog is, verwerk. Soos sake nou staan, is die situasie al reeds te erg en dan praat ek nog nie eens van die impak van beurtkrag nie.”

Geldenhuys het ʼn beroep op die regering gedoen om by die benarde situasie in te gryp sodat landbouprosesse nie verder negatief geaffekteer word nie.

“Die belangrikheid van voedselsekuriteit kan en mag nie deur die regering onderskat word nie. Boere móét in produksie gehou word en daarom sal die regering ʼn manier moet vind om die landbousektor te help om die situasie te oorbrug deur subsidies of spesiale tariewe.”

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon