Archives

Blink toekoms vir Equalizer ná Duitse oorname

Featured Ad


Landbou.com – Blink toekoms vir Equalizer ná Duitse oorname | Landbou

 

Foto: Verskaf

Equalizer het oor die jare in Suid-Afrika naam gemaak as ’n vervaardiger van werktuie vir bewarings- en herlewingslandboupraktyke, terwyl Lemken se produkaanbod grootliks konvensionele landboupraktyke ondersteun.

“Equalizer sal voortgaan om onder sy handelsmerk besigheid te doen, maar die oorname beteken dat verskeie internasionale markte nou aan ons toerusting bekend gestel sal word,” het mnr. Gideon Schreuder, besturende direkteur van Equalizer gesê.

Hy het gesê die ooreenkoms beteken ook dat vervaardiging plaaslik ’n groot hupstoot sal kry, maar bied ook die geleentheid om van die groter masjinerie wat moeilik verskeep, in lande soos Brasilië te vervaardig. “Een van Suid-Afrika se grootste voordele is ’n beter bekostigbaarheid van vervaardiging, wat ook een van die beweegredes vir die oorname was.”

Mnr. Karel Munnik, besturende direkteur van Lemken Suider-Afrika, het gesê die gedagte om ’n plaaslike vervaardiger aan te koop, het reeds vyf jaar gelede posgevat.

“Ons het ’n groot geleentheid in Equalizer se besigheid gesien. Die ooreenkoms hou groot voordeel vir albei maatskappye in, aangesien dit nuwe internasionale markte aan Equalizer open, terwyl Lemken die geleentheid kry om ’n gaping in sy bestaande portefeulje masjinerie te vul.”

Die aankondiging van die oorname is op ’n geleentheid by die Durbanville Hills-konferensiesentrum buite Kaapstad gemaak.

Goeie aanbod

Mnr. Anthony van der Ley, hoofbestuurder van Lemken, het gesê Equalizer het ’n uitstekende planteraanbod, wat by die maatskappy se groeistrategie inpas.

“Die twee maatskappye se reekse werktuie is aanvullend en ons sal ons kundigheid deel in alle aspekte van die besigheid, insluitende ingenieurswese, bemarking en verkope. Die ooreenkoms sal Lemken se teenwoordigheid in Suid-Afrika vergroot, met Lemken Suid-Afrika en Equalizer. Ons sal voortgaan om verder in die land te belê. Ons behou ook die volle personeel met die oog daarop om uit te brei.”

Schreuder het gesê die oorname gee Equalizer die geleentheid om ware potensiaal vir groei te ontsluit.

“Vir ons mense is hierdie ’n geleentheid om hul waarde aan die wereld te wys. Ons het ’n ongelooflike produk en al wat ons benodig het, was ’n maatskappy soos Lemken om dit na die res van die wêreld te neem. Ons wil voortbou op die fondasie wat gelê is deur Equalizer se personeel se harde werk en sien uit na die toekoms.”

Hy het gesê die oorname sal nie die werksaamhede en ondersteuning wat Equalizer se kliënte en handelaars geniet het, beïnvloed nie. “Ons sal voortgaan om ons plaaslike basis se ondersteuning te verbeter en seker maak dat ons plaaslike mark steeds die hoogste vlakke van ondersteuning kry. Die samesmelting met Lemken gee Equalizer ook nou die geleentheid om meer te konsentreer op nuwe ontwikkelings, ontwerp en vervaardiging, terwyl die bemarkingsplatform deur Lemken hanteer word. Daar is dus heelwat voordele vir ons bestaande mark om na uit te sien.”

Maklike besluit

Me. Nicola Lemken, eienaar van Lemken, het gesê dit is ’n baie spesiale oomblik. “Dit was uiteindelik ’n maklike besluit om te maak – Equalizer bied die regte produkte en ’n sterk geskiedenis, terwyl die maatskappy produkte ontwikkel wat sterk deur sy kliënte ondersteun word. Dit is ook die samesmelting van twee familie-gebaseerde maatskappye, wat waardes deel.

“Laastens is daar ’n gemeenskaplike passie vir landboumasjinerie en ons sal Equalizer ondersteun met ons hulpbronne om verder in Suid-Afrika en internasionale markte te groei. Ons sien uit na die nuwe jaar met die geleenthede wat dit vir ons twee maatskappye bied.”

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon