Archives

Permanente beurtkrag vir volgende twee jaar beplan

Featured Ad


.

Maroela Media – Permanente beurtkrag vir volgende twee jaar beplan | Maroela Media

 

Eskom beplan om vir die volgende twee jaar permanent tussen twee beurtkragfases te wissel in ʼn poging om genoegsame ruimte vir instandhouding te gee.

 

Hoër beurtkragfases kan egter ingestel word indien uitstaande skuld nie vereffen word en munisipaliteite gereelde betalings begin doen nie.

 

Lede van Eskom se topbestuur het Sondag in ʼn uitgebreide mediakonferensie die kragvoorsiener se huidige stelseluitdagings uitgestippel.

 

Mpho Makwana, voorsitter van Eskom se raad, sê die kragvoorsiener beplan vir fase 2- en 3-beurtkrag om voorts van krag te wees. Grotendeels vir instandhoudingsdoeleindes, maar ook om die land en sy nywerhede ʼn mate van voorspelbaarheid oor die kragsituasie te gee om daarvolgens te beplan.

 

Hoewel daar in hierdie tyd nie ʼn laer beurtkragfase as 2 sal wees nie, is dit moontlik dat hoër beurtkragfases – en selfs fase 8 – ingestel sal word.

 

“Die werklikheid is dat dit twee jaar sal neem om die gewenste energiebeskikbaarheidsfaktor van 70% by Eskom se steenkoolvloot te bereik,” sê hy.

 

“Die wêreldnorm is 86% en Eskom se kragstasies staan tans op 58%. Teen Maart vanjaar hoop ons om 60% te bereik.”

 

André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, het op sy beurt gesê dat Eskom se energiebeskikbaarheidsfaktor die afgelope paar weke ʼn nuwe laagtepunt bereik het.

 

Dit kom weens probleme by die Kusile-kragstasie, asook beplande instandhouding wat genoodsaak is om kragopwekking op lang termyn te verbeter.

 

Hoewel die komende wintermaande moontlik verdere kapasiteitsuitdagings vir Eskom gaan bring, het Makwana egter gesê dat die stand van sake sal stabiliseer wanneer eenheid 5 van die Kusile-kragstasie weer by die netwerk gevoeg word. Indien hierdie eenheid teen Julie of Augustus bygevoeg word, sal dit ʼn verdere 720 MW opwekkingskapsiteit beteken.

 

Intussen spook Eskom nog om ander probleme te takel, met sommige opwekkingseenhede wat nog maande lange beplande instandhouding moet ondergaan.

 

Volgens De Ruyter gaan eenheid 1 en 3 van Kusile nog tussen agt en 12 maande vir herstelwerk af wees, terwyl eenheid 4 van Medupi eers teen September volgende jaar herstel sal word.

 

Op kort termyn sal albei Koeberg se eenhede teen Julie en Augustus aangeskakel word om die vraag na elektrisiteit in die winter aan te pak. Terwyl eenheid 1 se stoomopwekker dan al vervang sal wees, sal eenheid 2 ná winter van lyn af geneem word om sy stoomopwekker te vervang.

 

“Eskom se kapasiteitsuitdagings is nie onoorkomelik nie,” sê Makwana.

 

“Dit sal wel verg dat alle moontlike oplossings oorweeg moet word, waaronder sonkragprojekte en ʼn veldtog om energiedoeltreffende gloeilampe te bevorder.”

 

Fase 8-beurtkrag ver, maar altyd naby

 

Suid-Afrikaners moet hulle voorberei op nog beurtkrag in die komende maande. (Foto: Maroela Media)

 

De Ruyter voer aan dat die moontlikheid van fase 8-beurtkrag nou baie minder is as enkele weke gelede, maar maan dat die situasie te eniger tyd kan verander as daar grootskaalse onklaarrakings of voortdurende uitdagings is.

 

“Eskom se spanne werk wel onverpoos om die inwerkingstelling van fase 8, asook ʼn algehele ineenstorting van die kragnetwerk te vermy,” sê hy.

 

“Dit is deels hoekom ons ons opwekkingsreserwes beskerm deur beurtkrag in te stel.”

 

Volgens De Ruyter bly Eskom se likwiditeit ʼn kernkwessie en indien dit nie eersdaags aangepak word nie, kan dit benaderende gevolge inhou – soos die instelling van fase 8-beurtkrag.

 

“Daar is tot op hede R57 miljard wat munisipaliteite aan Eskom skuld. Eskom is afhanklik van daardie inkomste en wanneer dit nie betaal word nie, word ons reserwes se veiligheid, asook die aankoop van nog reserwes in gedrang gestel,” sê hy.

 

“Ons verwag dat die wanbetaling al hoe erger gaan raak en die werklikheid is dat diegene wat eindelik nie vir elektrisiteit betaal nie, dikwels die verbruik daarvan misbruik.

 

“Ons sit ook met die probleem van mini-substasies wat oorlaai word weens onwettige verbindings en misdadige elemente wat poog om Eskom se vermoë om krag te verskaf, probeer saboteer.

 

“Dit kom daarop neer dat ʼn kultuur van betaling gestig moet word, want indien dit nie verander nie, sal Eskom se eie finansiële gesondheid, en sy vermoë om krag te verskaf, al hoe meer versleg.”

 

Jan Oberholzer, bedryfshoof van Eskom, het verduidelik hoe fase 8-beurtkrag prakties sal lyk indien dit ooit ingestel moet word.

 

In ʼn siklus van 32 uur sal huishoudings vier keer vir vier uur sonder krag sit. Dit kom daarop neer dat mense dan in daardie tyd vir 16 uur sonder krag sal wees.

 

“Dit is waar dat dit ʼn beduidende hoeveelheid tyd is wat mense sonder krag sal wees, en hoewel die situasie voortdurend kan verander, doen ons alles moontlik om dit te vermy.”

 

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon