Archives

Ontmoet die 2022 Veeplaas Klimaatslim Ambassadeur-finaliste

Featured Ad


Plaas Media het aan die begin van 2022 ‘n nuwe projek van stapel gestuur – die Veeplaas Klimaatslim Ambassadeur-projek. Die doel van die projek is om veeprodusente te identifiseer wat klimaatslim boerderypraktyke op hul plase toepas, maar wat ook bereid is om hul kennis oor hierdie praktyke te deel met ander veeprodusente wat ook hierdie praktyke op hul plase wil implementeer of verbeter.

 

In sy eerste jaar het die projek elf inskrywings van regoor Suid-Afrika ontvang. Die elf boere het as deel van hul inskrywing elk ‘n vraelys voltooi op Plaas Media se Agriorbit-webtuiste. Die projek ondersoek ses aspekte van klimaatslim boerderypraktyke, naamlik veldbestuur, kuddebestuur, die bestuur van kaal grond, erosie en bosindringing, droogtebestuur, finansiële bestuur, en kennis oor klimaatsverandering.

 

Lees meer oor die projek hier.

 

Hierdie aspekte is in die aanvanklike vraelyste geassesseer en punte is aan elke inskrywer toegeken. Vier van die produsente wat ingeskryf het, het uitstekende punte behaal en is as deel van die finale assessering op hul plase besoek deur dr Louis du Pisani en Kobus Marais, die beoordelaars. Vanjaar se finaliste is James Faber, Matthew Morgan, Stefan Erasmus en Willie Storm.

James Faber, Glen Ross-boerdery, Barkly-Wes

“Ek het net een kans, so of ek doen dit reg, of ek doen dit glad nie.” So sê James Faber oor die bestuur van volhoubaarheid op sy plaas in die Noord-Kaap. Faber het sy loopbaan afgeskop met ‘n BSc-graad in landbou-ekonomie en het as kontrakteur gewerk voor hy gaan boer het. Hy en sy broer het saam ‘n familieboerdery van die been af gebring en vandag bestaan Glen Ross-boerdery uit ‘n veevertakking asook ‘n besproeiingsvertakking met mielies, koring en lusern.

 

James is tans die voorsitter van die Rooivleisprodusente-organisasie of RPO, en glo dat ‘n mens betrokke moet wees by jou gemeenskap om terug te gee aan die mense wat goed was vir jou. Plaas TV het ‘n onderhoud met James gevoer om hom beter te leer ken. Kyk hier na dié onderhoud:

Matthew Morgan, Redcliffe, Tarkastad

Matthew Morgan is ‘n bees- en skaapboer in die Tarkastad-omgewing. Matthew het in 2009 saam met sy pa begin boer en in 2014 formeel die boerdery oorgeneem. Hy het ook bekendheid verwerf toe hy in 2019 as die Toyota Oos-Kaapse Jongboer van die Jaar aangewys is. Hy is veral trots op die gehalte van die skaapwol wat hulle op Redcliffe lewer.

 

Lees meer oor klimaatslim veeboerdery praktyke hier.

 

Matthew glo dat klimaatslim boerderypraktyke hand aan hand gaan met ‘n beter gehalte lewe vir mens en dier. “Dit beteken natuurlik dat ‘n mens moet omsien na jou omgewing en jou hulpbronne.” Hy is ook van mening dat die deel van kennis oor klimaatslim boerderypraktyke eers op grondvlak moet geskied, voordat daar na die wyer omgewing uitgereik word. Kyk na hierdie Plaas TV-onderhoud vir meer oor Matthew en sy boerdery:

Stefan Erasmus, Beskuitfontein, Noupoort

Stefan Erasmus is ‘n vierde-generasie boer. Stefan boer in die Noupoort/Middelburg-omgewing in die noord-oostelike Karoo en is die derde generasie wat op die plaas Beskuitfontein boer. Hy boer hoofsaaklik met beeste en skape, terwyl lusern ook verbou word met die oog op verkoop en eie gebruik. Stefan is dit eens dat daar nie ‘n ander opsie is as om klimaatslim te boer nie. “Die klimaat het nog altyd verander en sal altyd verander. Om daarvolgens te produseer en bestuur, is die enigste manier om volhoubaar te boer.”

 

Stefan glo ook vas dat produsente moet aanhou leer en baie lees. Kyk hier na sy Plaas TV-onderhoud waar hy uitbrei op Beskuitfontein se doen en late:

Willie Storm, Elliesrust, Olifantshoek

Willie Storm boer in die Noord-Kaap en is passievol oor klimaatslim boerdery. Willie het in 1990 met R10 000 begin boer en 13 jaar later die familieplaas by sy pa gekoop. Nog ‘n paar jaar later, in 2013, het hy met ‘n ontbossingsprojek op die plaas begin. Hy boer hoofsaaklik met beeste en koop kalwers aan vir ‘n voerkraal. Hy bestuur egter ook sy eie klein voerkraal wat hom deur die droogte gehelp het en toegelaat het dat hy sy kudde behou.

 

Willie is van mening dat mense die kopskuif moet maak om klimaatslim boerderypraktyke te implementeer. “Daar is nie eintlik ‘n keuse nie,” sê hy. “Klimaatverandering is met ons en die realiteit is dat dit nie gaan verander of beter raak nie.” Kyk hier na sy onderhoud op Plaas TV:

 

Aankondiging van 2022 se wenner

Die wenner van vanjaar se Veeplaas Klimaatslim Ambassadeur-projek word op 5 Augustus op Plaas TV aangekondig. Maak seker jy skakel om 08:00 die oggend in om uit te vind wie met die 2022-titel gaan wegstap. Hiermee die link na die Plaas TV YouTube kanaal: https://www.youtube.com/c/PlaasTVFarmTV

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon