Archives

Bekende bul deur weerlig doodgeslaan

Featured Ad


Picasso, 'n Boran-bul van Hurwitz Farming. Foto: Skermgreep/Facebook

Picasso, ‘n Boran-bul van Hurwitz Farming, was elke week tydens die openingstonele van Landbouweekliks op televisiestelle in Suid-Afrika te sien en het verskeie veilingrekords gehou, waaronder ‘n Suid-Afrikaanse rasrekord vir die hoogste prys op ‘n veiling vir semen betaal. Picasso het in Maart vanjaar vir die derde jaar agtereenvolgens sy eie rekord verbeter toe die Ntaba Nyoni-stoetery van pres. Cyril Ramaphosa R33 000 per strooitjie vir 12 strooitjies van sy semen betaal het.

“Picasso was waarskynlik die herkenbaarste en bekendste bul in Suid-Afrika. Staatsveeartse, besoekers, kopers, almal wat op die plaas gekom het, wou eers vir Picasso sien voor hulle met die doel van hul besoek voortgegaan het,” sê mnr. Simeon Hurwitz, besturende direkteur van Hurwitz Farming naby Davel in Mpumalanga. Picasso is uit die hoog aangeskrewe bul Rembrandt en die superkoei Segera geteel en het homself vanaf 2016 as die hoeksteen van die hele Hurwitz-Boran-stoetery gevestig.

“Ons het boodskappe van simpatie van reg oor die wêreld ontvang ná Picasso se dood. Vriende, medeboere en kliënte het geskakel, e-posse gestuur en op sosiale media hul simpatie betuig. Hy was regtig ‘n uitsonderlike bul en een van ons rocksterre.”

Soos die bekende skilder na wie Picasso genoem is, kan verwag word dat die pryse vir sy nageslag dienooreenkomstig kan styg, maar die teelwaarde van die bul is reeds gedurende sy leeftyd bewys. Só is Picasso se dogter, Kelly, en haar bulkalf op die jaarlikse Hurwitz-produksieveiling in Augustus vanjaar vir R1,1 miljoen verkoop. Nog ‘n Picasso-dogter, Tanya, is vir R450 000 verkoop, terwyl die Picasso-seuns, Chagall en Raphael, vir onderskeidelik R1,5 miljoen en R1,4 miljoen verkoop is.

“Picasso se nalatenskap sal voortleef, nie net in ons eie Boran-kudde nie, maar in Boran-kuddes reg oor die vasteland. Hy was enig in sy soort en ons is dankbaar vir die verskil wat hy in ons stoetery gemaak het,” sê Hurwitz.

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon