Archives

Nuwe kragtariewe: ‘Genoeg is genoeg’

Featured Ad


Maroela Media – Nuwe kragtariewe: ‘Genoeg is genoeg’ | Maroela Media

Die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) se besluit dat kragtariewe met 18,65% verhoog kan word, behoort deur alle Suid-Afrikaners verwerp te word.

“Nersa se besluit om kragtariewe te verhoog, te midde van 120 dae se beurtkrag in 2022 en onbepaalde fase 6-beurtkrag in 2023, is openlike diefstal,” het Ghaleb Cachalia, DA-LP en woordvoerder oor openbare ondernemings, gesê. “Dit is tyd vir alle Suid-Afrikaners om op te staan en te sê: ‘Genoeg is genoeg’.”

Volgens Cachalia het DA-leier John Steenhuisen ʼn skrywe aan president Cyril Ramaphosa gerig waarin hy ʼn dringende vergadering versoek oor Eskom en die groeiende kragkrisis.

“Hierdie tariefverhoging gooi nou olie op die vuur en die DA glo dat dit nie langer kan aanhou nie. Die party sal die opsie van massa-aksie teen die onbekwame ANC-geleide regering ondersoek.

“Suid-Afrikaners is reeds tot breekpunt gedruk weens hoë lewenskoste en hierdie stap deur Nersa sal baie dwing om die moeilike keuse te maak om óf kos op die tafel te sit óf te betaal vir nie-bestaande kragtoevoer van Eskom. Hierdie Nersa‑Eskom-klopjag op verbruikers se leë sakke is onregverdig en wreed omdat dit verbruikers vra om meer te betaal vir elektrisiteit wat hulle nie het nie.”
Solidariteit is van mening dat Nersa eerder meer aandag aan aansoeke deur private kragopwekkers en minder aandag aan Eskom se aansoeke vir duurder krag moet gee.

“Die tyd wat Nersa jaarliks daaraan bestee om Eskom se tariefverhoging te oorweeg, kan veel beter bestee word aan beleidshersiening om nuwe toetreders tot die kragnetwerk toe te laat om hul dienste te lewer. Dit is uiteindelik die enigste manier hoe Suid-Afrika uit die huidige kragkrisis sal kan kom,” sê Theuns du Buisson, ekonomiese navorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI).

Volgens Solidariteit hou Eskom se toenemende skuld en sy dalende kragverskaffing tans die enkel grootste bedreiging vir die Suid-Afrikaanse ekonomie in.

“Die vals keuse dat Eskom óf die tariefverhoging gaan kry óf weer afhanklik van verdere reddingsboeie gaan wees, word deurlopend aan Suid-Afrika voorgehou, maar die feit bly staan dat ons elke jaar sien hoe albei hierdie skadelike toegewings gemaak word,” verduidelik Du Buisson. “Eskom is tans vasgevang in ʼn bose kringloop waar hy al hoe minder krag kan verskaf en derhalwe meer wil vra vir die krag wat wel beskikbaar is. Dit is egter hoegenaamd nie volhoubaar nie en die enigste oplossing is om meer krag tot die netwerk te voeg – en dit so spoedig as moontlik.”

Die VF Plus het Ramaphosa intussen gekap omdat hy glo meen die afskryf van agterstallige kragrekeninge in Soweto moet oorweeg word.
Wouter Wessels, VF Plus-LP, meen dit is verstommend en onaanvaarbaar en dat optrede soos hierdie die kultuur van nie-betaling vir krag bevorder en direk bydra tot buitensporige verhogings in die kragprys.

“Nersa se verhoging hou glad nie tred met die ekonomiese realiteite van Suid-Afrika en die feit dat die meeste Suid-Afrikaners reeds onder die broodlyn leef nie. Verbruikers wat getrou vir hul elektrisiteitsgebruik betaal, word nou verder gestraf vir die regering se onbevoegdheid en vir dié wat nie vir krag betaal nie.”

Indien die huidige agterstallige skuld van nagenoeg R5 miljard wel afskryf word, sal dit die soveelste afskryf van Soweto se skuld wees. Sedert 2003 is R17,3 miljard se skuld van Soweto afgeskryf, sê Wessels.

“Duidelik het die inwoners van Soweto bloot voortgegaan om nie vir krag te betaal nie. Die regering het geen plan om die buitensporige agterstallige skuld aan Eskom te hanteer nie. Munisipaliteite se uitstaande skuld aan die kragvoorsiener beloop tans meer as R60 miljard.”

Herman Mashaba, leier van ActionSA, meen die enigste uitweg is om die “korrupte” ANC uit sy magsposisie te verwyder.

“Terwyl ons mense veerkragtig is en groot teëspoed kan weerstaan, is dit moeilik om optimisties te bly wanneer dit duidelik is dat die ANC-regering geen plan het om ons energiekrisis te beëindig nie.

“Ons word nou al 14 jaar lank deur beurtkrag beleër met die situasie wat al hoe erger word. Die huidige situasie is onhoudbaar. Eskom moet sy bedryfsuitdagings regstel en nuwe opwekkingskapasiteit vinnig instel.

“Die belangrikste is dat die onbevoegde en korrupte ANC van mag verwyder moet word. Dit is duidelik dat solank as wat die ANC aan bewind is, daar geen einde aan die uitrol van beurtkrag sal wees nie. Die enigste manier om hierdie krisis te beëindig, is om die ANC se wurggreep op Suid-Afrika te beëindig.”

 

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon