Archives

Grondhervorming: Herverdeling van landbougrond tot dusver ‘ondoeltreffend’

Featured Ad


Landbou.com – Grondhervorming: Herverdeling van landbougrond tot dusver ‘ondoeltreffend’ | Landbou

Luidens ’n artikel wat vroeër vandeesweek op die webwerf The Conversation gepubliseer is, sê Kirsten dat verskeie inisiatiewe van stapel gestuur is om grondhervorming, wat vir die ANC sedert 1994 ’n prioriteit is en ten doel het om landbougrond aan minderbevoorregtes te verskaf, te bewerkstellig.

 

Die doelwit was om 30% van Suid-Afrika se landbougrond na swart boere te herverdeel. Die proaktiewe grondaankopestrategie- (PLAS) program, die staat se nuutste strategie, het in 2006 die staat se ander herverdelingsprogramme vervang.

 

Die afgelope 16 jaar het die staat sowat R12 miljard bestee om 2,9 miljoen ha landbougrond te koop wat voorheen aan wit boere behoort het. Hierdie grond bestaan uit 2 921 plase en word vir 30 jaar aan begunstigdes verhuur.

 

Die staat besit ook ’n verdere 3 172 plase, maar dit is volgens Kirsten onduidelik wanneer en hoe hierdie plase bekom is. “Ons beste raaiskoot is dat dit gedurende die vroeëre stadium van die grondhervormingsprogramme gekoop is.”

 

’n Navorsingsverslag, wat deur die Landbounavorsingsraad (LNR) vir die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling saamgestel en in 2019 gepubliseer is, verskaf volgens Kirsten ’n ontnugterende blik op wat gebeur wanneer die regering se burokrate by grondhervorming en landboubesluite betrokke raak.

 

Die belangrikste bevindinge in die verslag dui daarop dat die prestasie van die meeste van die plase wat ingevolge die PLAS-program aangekoop is, tot dusver teleurstellend was. Meer as die helfte van die huidige begunstigdes het nie noemenswaardige produksie aangemeld nie en het beperkte kapasiteit om kommersiële status te behaal.

 

Kirsten meen die data en onderhoude wat in die verslag ingesluit is, dui die redes vir bogenoemde mislukking duidelik aan. Dit sluit onder meer in swak keuring van begunstigdes, gebrekkige steun en infrastruktuur, en onstuitbare misdaad. Verdere oorsake is swak steun nadat plase tot stand gebring is en swak monitering van die mense wat aangestel is om die nuwe boere te steun. Landbou-infrastruktuur, op en buite die plaas, het ook aandag nodig.

 

“Volgens ons dekades van ondervinding in die bestudering van grondbeleid, glo ons daar is ruimte om die plase wat ingevolge die skema gekoop is, suksesvol in winsgewende waardekettings te integreer. Om dit te doen, moet die bestaande beperkings eers uit die weg geruim word,” sê Kirsten.

 

Die ontnugterende bevindinge

 

Aangesien die meeste van die plase wat ingevolge die program gekoop is, hoë potensiaal gehad het, is dit volgens Kirsten moontlik om die bespiegeling dat die grond van swak gehalte was as ’n mite af te maak. Die LNR se ontleding van die grond het bevind dat 98% van die plase oor skaflike tot goeie natuurlike hulpbronne beskik.

 

Die meeste plase (59%) was ook groot genoeg vir lewensvatbare ondernemings. Ten spyte van beperkings het 7% van die plase goed presteer, wat volgens Kirsten daarop dui dit vir die program moontlik is om sy doelwitte te bereik.

 

Die verslag meld verder dat sowat 60% van al die plase die potensiaal het om kommersiële produksievlakke te bereik, terwyl 23% die potensiaal het om noemenswaardige produksievlakke te bereik. Sowat 10% van die grond het egter slegs die kapasiteit om bestaansproduksievlakke te handhaaf.

 

Die verslag het bevind dat die plase wat ontleed is, gesamentlik 12 129 deeltydse en 7 045 heeltydse werkers in diens neem. Volgens die plase se potensiaal moet 60 050 werkers egter eintlik in diens geneem word.

 

Die verslag meld ook agteruitgang by die plase en het bevind dat 13% van die plase ernstig tot straf agteruitgang getoon het. Volgens satellietbeelde is bevind 42% van die kommersieel lewensvatbare plase en 53% van die mediumgroot plase het tekens van agteruitgang soos erosie en oorbeweiding getoon.

 

Die verslag het verder bevind dat die meeste van die plase hoëwaardekommoditeite soos vrugte, groente en veldgewasse vermy en eerder op vee konsentreer. Dit kan weens ’n gebrek aan vaardighede, waterbeperkings, ’n gebrek aan infrastruktuur of beperkte toegang tot kapitaal wees.

 

Dit is veral kommerwekkend dat 350 van die plase geen kommoditeite produseer nie.

 

Wat moet nou gebeur?

 

Kirsten sê beperkte toegang tot kapitaal aangesien huurkontrakte nie as kollateraal beskou word nie, dui daarop dat die plase se titelaktes oorgedra moet word aan die boere wat hul bekwaamheid bewys het. “Dit sal hulle toegang tot finansiering deur die Land Bank se nuwe gemengde finansieringsprogram bied.”

 

Dat plase met beter infrastruktuur – soos behuising, heinings, ’n waternetwerk, vaste bates en toerusting – beter presteer het, beklemtoon volgens Kirsten die belangrikheid van belegging in infrastruktuur.

 

“Vir grondhervorming om in die toekoms te slaag, sal die keuring van begunstigdes volgens die kriteria van ondernemingsgeskiktheid, veerkragtigheid en tegniese vaardighede noodsaaklik wees. Volgens die kriteria wat in die PLAS-program beskryf word, moet begunstigdes geëvalueer word. Dit lyk egter nie of dit in die praktyk gebeur het nie.

 

“Die nuutste resolusie oor grondhervorming wat deur die ANC aangeneem is, voer aan dat wetgewende instrumente ingespan moet word om die staat se koop van grond te bestuur. Die bogenoemde mislukkings dui daarop dat die staat altyd swak gevaar het met die herverdeling van grond aangesien dit altyd aan die grond wil vashou.

 

“Die oogmerk met die vasstel van foute in beleid is tog sekerlik om dit nie te herhaal nie.”

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon