Archives

Beurtkrag, tariefverhogings kan voedselsekerheid knou

Featured Ad


Maroela Media – Beurtkrag, tariefverhogings kan voedselsekerheid knou | Maroela Media

Die landbousektor is bekommerd oor die toekoms van voedselsekerheid nadat ʼn kragtariefverhoging van 18,65% vir die 2023-’24- boekjaar Donderdag deur die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) goedgekeur is.

Volgens TLU SA en Agri Wes-Kaap is die kragtariefverhoging iets wat die land, en veral die landbousektor, nie kan bekostig nie.

“Die kragverhoging sal die landbousektor onder nóg groter druk plaas te midde van beurtkrag en lasvermindering, wat meebring dat selfs die heel grootste boere nou deur onomkeerbare verliese in die oë gestaar word,” meen Bennie van Zyl, hoofbestuurder van die landbouorganisasie TLU SA.

TLU SA neem Vrydag op uitnodiging van Thoko Didiza, minister van landbou, aan ʼn vergadering deel waar die land se energiekrisis deur verskeie partye bespreek word.

TLU SA gaan die volgende punte argumenteer:

  • Ter wille van voedselsekerheid behoort die regering landbou as ʼn noodsaaklike diens te beskou, wat geen beurtkrag mag kry nie. TLU SA sal veral versoek dat kouekettingboere en boere wat van besproeiing afhanklik is van beurtkrag vrygeskeld word, of dat beurtkrag buite spitstye toegepas word.
  • Produsente van kouekettingprodukte (temperatuur gereguleer) kan reeds nie raklewe waarborg nie. Besproeiingsboere kan nie volhoubaar met diesel produseer nie en sommige aartappelboere moes reeds produksie staak weens die onvermoë om genoegsaam te besproei.
  • Weens die president se onderneming dat die kragsituasie sal verbeter, is groot insetkoste reeds aangegaan vir die vestiging van gewasse wat nou verdroog. Saaiboere ly hieronder, maar wintergewasse en lusern word ook geraak, wat kan meebring dat diere nie die winter oorleef nie.
  • Voedseltekorte verhoog misdaad (plunderveldtogte en opstande) en lei tot verdere prysstygings.
  • Boere wat minder produseer, laat werkloosheid toeneem.
  • Boere moes volgens geskatte syfers vir besproeiingswater registreer. Weens beurtkrag kan besproeiing nie plaasvind nie, maar die hoeveelheid water waarvoor geregistreer is, kan nie verminder word nie. Dit is omdat ʼn boer, wanneer hy weer die volle volume wil besproei, van voor af aansoek moet doen met ’n omgewingsimpakstudie wat meer as R100 000 beloop en administratiewe rompslomp.

Alternatiewe oplossings

Van Zyl sê Suid-Afrikaners het ʼn punt bereik waar hulle besef dat hulle op hulself aangewese is om na alternatiewe oplossings te kyk en te implementeer.

“Eskom het ons land gefaal onder druk van die ANC se beleid,” sê hy.

Son SA, ʼn inisiatief wat onlangs deur verskeie organisasies op die been gebring is, se beplande energiekonferensie is ʼn stap om alternatiewe krag die primêre kragverskaffer in Suid-Afrika te maak.

“Eskom moet ook onder die regering se hande uitkom sodat sakebesluite in plaas van die ANC se ideologiese besluite geneem kan word.”

Jannie Strydom, hoof‑ uitvoerende beampte van Agri Wes-Kaap (AWK), sê landboubedrywe se energiebehoeftes bly dieselfde, ongeag die elektrisiteitstarief en produsente word nou genoop om in alternatiewe elektrisiteitsbronne te belê, wat enorme kapitaal verg.

“Voedselsekerheid kan nie net op die skouers van produsente rus nie. Voedselproduksie is tans onder geweldige druk, en besluitnemers sal die erns van die saak moet besef – dringende ingryping is nodig,” sê Strydom.

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon