Archives

Boere gepootjie wat krag wil opwek

Featured Ad


Landbou.com – Boere gepootjie wat krag wil opwek | Landbou

 

Die maatskappy Sonfin, wat sonkragprojekte vir boere en ander kraggebruikers installeer, sê hy het verskeie kliënte wat eers sukkel dat Eskom hul projekte moet goedkeur en daarna om die korrekte rekenings te kry waarvolgens hulle die ooreengekome kWh-krediete kry vir krag wat hulle aan die netwerk gelewer het.

 

“Is Eskom en die regering regtig ernstig daaroor om beurtkrag te beperk?” vra mnr. Chris Schutte, besturende direkteur van Sonfin, in ’n mediaverklaring wat gister (Maandag, 16 Januarie) eerste aan Landbou.com gestuur is.

 

Schutte sê toe beurtkrag verlede jaar van April tot Julie baie erg geraak het, het Ramaphosa en De Ruyter verskeie aankondigings en beloftes gemaak.

 

In Julie het Ramaphosa aangekondig dat die regering private belegging in opwekkingskapasiteit beduidend wil verhoog en sake-ondernemings en huishoudings in staat wil stel om in sonkrag op hul dakke te belê.

 

De Ruyter het in April verlede jaar gesê meer kapasiteit moet so gou as moontlik tot die netwerk gevoeg word en alle struikelblokke moet so gou moontlik uit die weg geruim word. Vyf tot sewe maande later het min gebeur.

 

“Die president was vasbeslote dat die aanpassing van die drempel vir registrasie van opwekkingsgeriewe tot 100 MW die private sektor in staat sou stel om deel te neem aan die vestiging van bykomende opwekkingskapasiteit om die druk vir beurtkrag te verminder.

 

“Boere word egter tot 1 MVA beperk ten opsigte van die grootte van hul sonkrag-fotovoltaïese stelsels omdat Eskom se beleid oor offsetting and banking, oftewel verrekening en opberging, bepaal dat aansoeke vir sulke stelsels wat groter is as 1 MVA op ’n individuele grondslag geëvalueer sal word en deur die nutsmaatskappy se pryskomitee goedgekeur moet word.”

 

‘Nee’ vir boer met groot stelsel

 

’n Sonfin-kliënt het by die Eskom-pryskomitee aansoek gedoen vir só ’n stelsel van 3,6 MW. Dit verg ’n groot belegging en die kliënt se verbruik is seisoenaal gebonde. Dit is dus vir hom nodig om in tye van laer verbruik krag te kan opberg (bank) en kragkrediete te kan kry.

 

Schutte sê die aanleg sal aan alle vereistes vir sulke stelsels voldoen en hou verskeie voordele vir Eskom in, soos:

 

Die kliënt sal ’n netto verbruiker van Eskom-krag bly. Hy sal 62% van sy eie kragbehoefte opwek en 38% steeds by Eskom koop;

Die kliënt sal jaarliks steeds sowat R5 miljoen se vaste koste aan Eskom betaal;

Die kliënt sal, weens sy seisoenale behoeftes, in die winter kWh teen hoër seisoenale tariewe berg en die krediet hiervoor in die somer teen laer tariewe benut. Dit hou vir Eskom ’n beraamde voordeel van R1,6 miljoen per jaar in;

Die kliënt sal ’n bydrae lewer, al is dit klein, om Eskom se druk vir beurtkrag te verminder; en

Die kliënt sal sy insetkoste kan verlaag en só werkgeleenthede verseker.

Schutte sê Eskom se faktureringstelsel maak reeds voorsiening vir kleinskaalse netwerkgekoppelde kragopwekking (SSEG) en geen veranderinge sal dus nodig wees vir groter stelsels wat op dieselfde beginsels bedryf word nie.

 

Eskom het die kliënt egter op 28 Oktober 2022 skriftelik laat weet dat sy aansoek afgekeur is. “Opberging word in dié stadium nie ondersteun vir enige SSEG groter as 1 MW nie,” is as rede aangevoer.

 

Schutte sê dit is ironies dat die kliënt toegelaat sou word om drie of vier verskillende opwekkingsaanlegte te bou, wat elk op sy eie vir opberging in aanmerking sou kom. “Dit kliënt het in sy beplanning sy Eskom-verbindingspunt as ’n grootmaatverbinding gestruktureer, sodat net een punt nodig sou wees,” sê Schutte.

 

Ondernemings en huishoudings ook teruggehou

 

Eskom het verder nog nie die reëls en ’n prysstruktuur ontwikkel waarmee ondernemings en huishoudings krag aan die netwerk kan verkoop nie, selfs al het De Ruyter verlede jaar gesê 500 MW kan só baie vinnig tot die netwerk gevoeg word.

 

“Dit beteken diegene wat nou reeds sonpanele by hul huise of ondernemings geïnstalleer het, kan nog steeds nie hul surplus krag aan Eskom verkoop nie.”

 

Schutte sê met ’n goed deurdagte kragtoevoer-tarief (feed-in tariff) kan dit vir ondernemings en huishoudings finansieel haalbaar wees om hul sonkragstelsels groter te maak. Deur so ’n tarief kan kliënte hul vaste koste verhaal deur die krag wat hulle aan Eskom verkoop.

 

Lang tydsverloop

 

Schutte sê om die wettige roete te volg om ’n SSEG aan die netwerk te koppel én die eerste Eskom-rekening te ontvang wat die SSEG weerspieël, duur tot 18 maande.

 

Verrekening en opberging begin die dag wat die aanpassingsooreenkoms tussen die kliënt en Eskom geteken word, maar ’n boer of landsburger ontvang die voordele eers wanneer hy sy eerste SSEG-rekening ontvang.

 

In sommige gevalle duur dít frustrerend lank:

 

’n Kliënt in die Prieska-omgewing en een in Kempton Park het hul ooreenkomste in onderskeidelik Julie 2021 en Maart 2021 onderteken, maar nog nie ’n korrekte SSEG-rekening ontvang nie. ’n Ander kliënt in Kempton Park wat sy ooreenkoms in Julie 2021 onderteken het, het sy eerste korrekte SSEG-rekening in Maart 2022 ontvang.

Vir ’n kliënt in die Delmas-omgewing, Mpumalanga, is daar aanvanklik telefonies aan Sonfin gesê Eskom-personeel gaan eers in SSEG-rekeninge oplei wanneer daar minstens vyf SSEG’s in die omgewing is. Die kliënt het die ooreenkoms vir die projek in Augustus 2021 onderteken, maar eers 14 maande later, in Oktober 2022, sy eerste SSEG-rekening ontvang.

In teenstelling hiermee het ’n kliënt in die Tom Burke-omgewing, ook in Mpumalanga, sy ooreenkoms op 20 Januarie 2022 onderteken en op 4 April 2022 sy eerste SSEG-rekening ontvang.

Werk aan verbindingspunte sloer

 

Schutte sê Eskom se tydraamwerk vir die voltooing van werk vir die verbinding van ’n SSEG aan die netwerk is 12 tot 18 maande. ’n Kliënt in die Vyeboom-omgewing, Wes-Kaap, het in April 2021 R2,5 miljoen aan Eskom betaal as deposito en vir die werk, maar Eskom het in Junie 2022 aangedui dat die werk eers ná Junie vanjaar gedoen sou word.

 

’n Kliënt in Gouda het sy verbindingskoste van R2,5 miljoen in Maart 2022 aan Eskom betaal en Eskom het ook aan hóm gesê die werk sal eers ná Junie vanjaar gedoen word.

 

Die kliënte mag nie hul eie Eskom-goedgekeurde kontrakteur gebruik nie. Schutte sê met só ’n kontrakteur sou die werk binne 3,5 maande afgehandel kon word, insluitend 2,5 maande vir terreinoorhandiging aan en inspeksie deur Eskom.

 

Noord-Kaapse netwerk ‘vol’

 

Schutte sê Eskom het ’n perk gestel op die toegelate kapasiteit vir sonkrag-installasies op verskillende dele van sy netwerk.

 

“Eskom het Sonfin ingelig dat dié perk in die Noord-Kaap bereik is, hoofsaaklik weens die groot hoeveelheid onafhanklike kragverskaffersprojekte in die streek.

 

“Dit beteken slegs SSEG’s wat géén krag aan die netwerk lewer nie, sal nou vir hierdie streek oorweeg word. Op die meeste besproeiingsplase, wat baie krag gebruik, vind besproeiing egter op ’n seisoenale grondslag plaas, hetsy in die winter of somer, na gelang van die gewas.

 

“Dit is dus vir boere wat groot kragverbruikers is, noodsaaklik om in die maande wanneer hul verbruik laag is, die krag te kan opberg en die kragkrediete hiervoor te kan benut wanneer hul verbruik hoog is.”

 

Bemagtig jouself

 

Schutte sê die enigste oplossing te midde van die hoë fases van beurtkrag én Nersa se goedkeuring van hoër tariewe is om onafhanklik van Eskom te word. Dit is volgens hom belangrik om ’n hoogaangeskrewe verskaffer te gebruik. Om finansiering by ’n bank te kan kry, moet die verskaffer by die bank geakkrediteer wees.

 

Kontak Schutte by info@sonfin.co.za met navrae.

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon