Archives

Landbou kan nie langer sonder beveiligingsplan – TLU SA

Featured Ad


Landbou.com – Landbou kan nie langer sonder beveiligingsplan – TLU SA | Landbou

 

Mnr. Ronnie Schilling, TLU SA se streeksbestuurder vir die oostelike dele van die land en KwaZulu-Natal, sê die organisasie het met afgryse kennis geneem van die moord van ’n boer op sy plaas in die Badfontein-omgewing naby Lydenburg. Volgens hom wek dit die gevoel dat boere spesifiek aangeval word.

“Die landelike beveiligingsplan moet ’n absolute prioriteit by die polisie word. Ons kan nie langer bekostig om sonder ’n werkende beveiligingsplan voort te gaan nie.

“Hierdie is die soveelste plaasaanval. Boere gaan groot uitgawes aan om hulleself te midde van voortdurende aanslae so goed moontlik te beveilig. Dit is duidelik dat die staat nie die vermoë het om ’n veilige omgewing te skep vir die sektor wat die nasie voed nie.”

Volgens mnr. Gawie Lötter, veiligheidsbestuurder by TLU SA, is mnr. Bheki Cele, minister van polisie, se afwesigheid wanneer dit by plaasaanvalle en -moorde kom sprekend van die prioriteit wat landelike beveiliging inneem.

“Sedert die minister in Junie verlede jaar ’n taakspan aangestel het wat spesifiek na landelike beveiliging moet kyk, het hy nog nie één keer met die taakspan vergader nie.”

“Syfers toon ’n groot toename in plaasaanvalle en -moorde sedert 1 Januarie vanjaar en die stilswye van die regering hieroor ontlok vrae, veral omdat dit in teenstelling is met pres. Cyril Ramaphosa se reaksie ná die onlangse Maselspoort-geval.”

Ramaphosa het hom sterk uitgespreek ná ’n rassevoorval by die Maselspoort-vakansieoord waartydens twee wit mans in hegtenis geneem is nadat hulle glo twee swart seuns in die oord se swembad aangerand het. Ramaphosa het ná aanleiding van die voorval gesê dat rassiste nie in Suid-Afrika welkom is nie.

Lötter sê boere is ontevrede. “In 2022 is daar 43 lewens in plaasaanvalle verloor. Hoeveel mense wat die land voed, moet nóg boet weens die polisie se onvermoë om hul werk te doen?”

Mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, sê boere se grootste prioriteit behoort voedselverskaffing te wees, nie sekuriteit nie. “Die regering behoort begrip te hê dat sy stilswye gaan veroorsaak dat gemeenskappe nie ’n ander keuse het as om hulleself met hul eie veiligheidsplan te beveilig nie. Die polisie kan deel vorm van hierdie plan mits hulle in staat is om wel ’n verskil te maak.”

Twee verdagtes

Brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, het aan Landbou.com bevestig die polisie ondersoek ’n saak van moord en huisroof nadat mnr. Jacobus Jacoba Nortjé (53) vermoedelik rondom 07:00 gisteroggend op sy plaas vermoor is.

Volgens Mohlala was Nortjé op pad werk toe toe twee gewapende mans hom genader en geskiet het. Hulle het vermoedelik toe in die plaashuis gegaan waar hulle sy vrou aangetref het. Hulle het haar hande en bene met tou vasgebind.

Die verdagtes het die sleutels vir Nortjé se Toyota Hilux-bakkie geneem en daarmee van die toneel gevlug. Die verdagtes het ook die Nortjés se selfone, bankkaarte en ander besittings gesteel.

Paramedici wat na die toneel ontbied is, het Nortjé op die toneel dood verklaar.

’n Ondersoekspan is op die been gebring en soek na die verdagtes. Enigiemand met nuttige inligting word versoek om Crime Stop by 08600 10111 te kontak.

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon