Archives

Minimum loon byna 10% hoër

Featured Ad


Maroela Media – Minimum loon byna 10% hoër | Maroela Media

 

’n Nuwe nasionale minimum loon van R25,42 per uur sal vanaf 1 Maart in werking tree.

 

Die vorige minimum loon was R23,18. Dit is ’n styging van 9,6%.

 

TLU SA sê die regering het heeltemal tred verloor met die werklikheid, terwyl die werkgewer blatant uitgebuit word.

 

“Die ooreengekome norm van inflasiekoers plus 1%, wat ongeveer 8% is, was reeds vir boere byna onbereikbaar. Dit is duidelik dat die regering se woord nie die papier werd is waarop sy sogenaamde ooreenkomste staan nie,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA.

 

Dié organisasie stel voor dat die huidige minimum loon plus 3% die norm behoort te wees. Agri SA het op sy beurt ’n VPI minus 2%-verhoging in die nasionale minimum loon voorgestel.

 

Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA, sê hierdie voorstel erken die finansiële druk op werkers in die inflasionêre omgewing, maar het ook aandag gegee aan die werklikheid van boere se onvermoë om steeds bo-inflasieverhogings te absorbeer.

 

Van der Rheede wys daarop dat die jongste verhoging deel vorm van ’n tendens van bo-inflasieverhogings vir langer as ’n dekade. Intussen word voedsel- en werksekerheid bedreig.

 

“Enige styging in koste sal boere verder onder druk plaas. Terwyl die sektor sukkel om die koste verbonde aan beurtkrag, verkrummelende infrastruktuur en hoë insetkoste in bedwang te bring, sal hierdie verhoging voedselsekerheid verder ondermyn en broodnodige werkgeleenthede op die spel plaas.”

 

“In ʼn gesonde ekonomiese omgewing word prys op grond van vraag en aanbod bepaal,” sê Van Zyl. “Boere behoort self die salaris wat hulle kan betaal, vas te stel. Werkers kan dan besluit om dit te aanvaar al dan nie. Indien dit vir hulle onaanvaarbaar is, moet hulle ander opsies soek.”

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon