Archives

Boeremarkte skep waardering vir kos

Featured Ad


Dr. Theo de Jager, voorsitter van Saai. (Argieffoto)


Maroela Media – Boeremarkte skep waardering vir kos | Maroela Media


Deur dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai

Boeremarkte is opwindende plekke waar daar altyd ʼn vrolike kermisatmosfeer heers, vriendelike mense met mekaar sosiaal verkeer, en verbruikers by boere uitkom. Veeveilings is ook so, maar by ʼn boeremark kom die plaas en die stad of die dorp by mekaar uit. Ons het te min regte boeremarkte in Suid-Afrika.

ʼn Boeremark is veel meer as ʼn wonderlike kos- en inkopie-ervaring. Dis die tuiste van varsheid, die kortste waardeketting waar middelmanne min speelkans kry, en ʼn baie belangrike inisiatief om vir die boer én die verbruiker ʼn billike waarde te verseker. ʼn Boeremark is ʼn vorm van ʼn landboustruktuur, wat baie dikwels deur boere, óf self óf deur boervriendelike plaaslike owerhede, gereël word.

Die belangrikste agenda vir ʼn landbou-organisasie is die winsgewendheid en die volhoubaarheid van boerderye. Wêreldwyd werk landbou-organisasies daaraan om enersyds die beleidsomgewing sodanig te beïnvloed dat dit vir hierdie agenda bevorderlik is en om waardekettings so in te rig dat produsente ʼn billike deel van die waarde van hulle produkte kry. Hoe langer ʼn waardeketting is, hoe kleiner is die deel van die waarde wat na die boer se sak toe kom.

Jennifer en Joao da Silva (Jenny en Joe) is groenteboere wat reeds van vroeg af op ‘n Saterdag hul groente regstreeks aan die verbruikers by die Pretoria Boeremark lewer. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Ek het onlangs op versoek van my agent op die Johannesburgse Varsproduktemark ʼn paar palette avokado’s in halfdosynpannetjies verpak en gestuur. Dit was glo ʼn bestelling van een van sy kopers. My jongste dogter het egter in die pakhuis beland met plakkertjies, naamlik stringe klein rooi hartjies. Toe ek die hartjies op die vrugte opmerk was dit te laat, dit was reeds met plastiek oorgetrek en die markvragmotor was al aan’t laai.

 

Drie dae later koop my vrou ʼn pannetjie avokado’s by ons plaaslike kruidenierswinkel in Tzaneen om vir my te kom wys. Ek was stomgeslaan om te sien dat elkeen ʼn rooi hartjie opgehad het! Op my koste is die vrugte 420 km ver mark toe gestuur, net om weer al die pad deur my plaas teruggestuur te word na ʼn winkel 12 km van my af. Dis nie eens die ergste nie – ek het R12 per pannetjie gekry, terwyl my vrou R59,99 daarvoor moes betaal!

 

Daar skort iets ernstigs in die toedeling van wins teenoor risiko in ons waardeketting.

 

Ek het ook al R15 per 2 kg-boksie lietsjies op die Kaapse mark gekry, net om twee dae later van ʼn goeie vriend te verneem dat hy van my lietsjies teen R75 per boksie in die kruidenierswinkel in Kleinmond gekoop het. Van my R15 moes die verpakking, vervoer, markfooie en agentekommissie ook nog afgetrek word.

 

As ek regstreeks aan die verbruiker kon verkoop, sou hy baie minder betaal terwyl ek baie meer sou kry!

 

Dit is die waarde van ʼn boeremark. Meer nog, by die boeremark is daar oog-tot-oog-kontak tussen die verbruiker en die boer.

 

Natuurlik kan nie alle kos in ons hedendaagse voedselsisteme op boeremarkte verhandel word nie. Ons moet egter daarna streef om soveel moontlik boer-tot-bord-transaksies na te jaag. Die digitale era het opwindende nuwe moontlikhede daarvoor oopgemaak.

 

Tydens die Covid-19-inperking se geklike regulasies het die verbod op wynverkope die meeste kleiner wynboere in pampoenstraat gelaat. As Suid-Afrika se grootste netwerk vir familieboere het Saai ʼn veldtog, Die Wynboer, van stapel gestuur om boetiekwyne teen kelderdeurpryse deur ʼn koerierdiens aan verbruikers in ons stede beskikbaar te stel om die mark te stimuleer. Vir ons lede en hulle kopers was dit ʼn opwindende ervaring en kontakgeleenthede wat so opgebou is, het hierdie somervakansie tot baie nuwe besoeke aan wynplase gelei.

 

Saai se Lamb Champs-dag verlede jaar, met meer as 50 skape op die spit by Harlequin Rugbyklub, het byna 3 000 Pretorianers in regstreekse kontak met die boere van al nege provinsies gebring, wat vir die produksie van hul braaitjops verantwoordelik is. Honderde skape word sedertdien weekliks in snitte van voorkeur van die plaas na dié stadsadresse gestuur. In Julie vanjaar sal meer as 100 skaapboere hul skaapvleis op spitte op Loftus aanbied om meer persoonlike boer-tot-braaivleisvuur-kontak, veral in Gauteng, te bewerkstellig.

 

Die grootste en oudste boeremark is egter TLU-SA se weeklikse een op Saterdae in Silverton, op die oostelike punt van Moreletastraat. Dis ʼn ervaring wat aan elke stadsgesin gegun moet word. Daar is stalletjies onverwerkte en verwerkte, tuisgemaakte produkte van plase van oraloor, etes, koffie, gemmerbier en lekkergoed.

TLU SA se Pretoria Boeremark in Silverton is reeds vir dekades aan die gang en baie gewild. (Du Preez de Villiers)

Boeremarkte is belangrik, want dit gaan oor ons ervaring van kos. Ons sit al in Suid-Afrika met ʼn tweede en derde geslag verstedelikte gesinne wat nie meer ʼn oom, oupa of kleinneef het wat op ʼn plaas woon nie. Hulle ervaring van kos eindig voor ʼn winkelrak of koelkas van ʼn kruideniershandelaar, maar met die wêreld van grond, sonskyn, water, meganisasie, arbeid en boere agter die winkelrak het hulle kontak verloor.

 

Saai dien in die direksie van World Farmers Market Coalition (WFMC), ʼn wêreldwye netwerk van boeremarkte wat daartoe verbind is om die afstand tussen die plaas en die ete in die stad weer korter te maak. Die VN het “Zero Hunger” as een van die volhoubare ontwikkelingsdoelwitte vir 2030 gestel. Die WFMC glo dat boeremarkte ʼn manier is om daardie doelwit te bereik.

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon