Archives

Omstrede onderhoud lei glo tot De Ruyter se skielike vertrek

Featured Ad


Foto: André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom.

 

Maroela Media – Omstrede onderhoud lei glo tot De Ruyter se skielike vertrek   | Maroela Media

 

 

Die ANC sien Eskom as ʼn trog om uit te vreet en daar is hoëvlak-politici betrokke by die korrupsie by die staatsonderneming.

Dit is dié uitlatings wat André de Ruyter tydens ʼn televisieonderhoud gemaak het wat waarskynlik daartoe gelei het dat Eskom Woensdagaand laat in ʼn kort verklaring bekend gemaak dat hy sy pos onmiddellik sal verlaat. De Ruyter het einde verlede jaar bedank maar sou tot einde Maart in sy pos aanbly.

In die onderhoud met die joernalis Annika Larsen op e.tv het De Ruyter verskeie skokkende bewerings gemaak.

Hy meen die beskikbare getuienis dui daarop dat die ANC Eskom as ʼn “trog” sien om uit te vreet.

De Ruyter het onder meer gesê dat hy sy kommer teenoor ʼn senior minister uitgespreek het rakende die bestuur van die $8,5 miljard wat deur Eskom-ingryping by COP26 gekry is.

“Die reaksie was in wese, ‘jy weet, jy moet pragmaties wees – tot beswil van almal moet jy sommige mense in staat stel om ʼn bietjie te eet’.”

Hy het ook bekend gemaak dat ʼn minister ingelig is oor ʼn spesifieke hoëvlak-politikus wat by korrupsie in Eskom betrokke is, en dat die betrokke minister toe na ʼn senior amptenaar gekyk en glo gesê het: ‘Ek dink dit was onvermydelik dat dit in elk geval sou uitkom’.

De Ruyter het gewaarsku dat die party meer belangstel in korttermyn politieke winste as langtermyn volhoubaarheid vir die land. “Politici wil hê wat vir hulle die volgende verkiesing sal wen, nie wat die land vir die volgende twee dekades aan die gang sal hou nie.

“Daar is ʼn narratief dat die staat alles moet beheer. Ongelukkig spook die spoke van Marx en Lenin steeds in die sale van Luthuli-huis. Mense is steeds stewig verbind tot ʼn 1980’s-styl ideologie. Hulle spreek mekaar steeds aan as kameraad, wat eerlikwaar ʼn verleentheid is.”

Sommige ministers en ander ANC-regeringsamptenare se antagonistiese benadering teenoor De Ruyter en die gebrek aan politieke steun het ook tydens die onderhoud aan die lig gekom. Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, het De Ruyter verlede jaar as ʼn verraaier bestempel en beweer beurtkrag word gebruik om die staat omver te werp.

Op ʼn vraag oor hoekom hy bedank het, het De Ruyter gesê dit was ʼn kulminasie van ʼn reeks faktore. Dit sluit in die verwydering van die vorige Eskom-raad. Hy het ook verwys na die beweerde vergiftigingsvoorval waar daar glo sianied in sy koffie gegooi is sowel as die afluistertoestel wat in sy motor gevind is.

Eskom bevind homself in die huidige penarie aangesien daar in die verlede nie tyd gemaak is om oor die toekoms te praat nie. Hy het gesê Eskom het die regering in 1998 gewaarsku dat daar meer kapasiteit nodig is en dat meer kragstasies gebou moet word, maar dat daar niks gedoen is nie tot en met 2007 toe daar met die Medupi- en Kusile-kragstasie begin is. Oor die twee kragstasies het De Ruyter gesê dit is “vrot met korrupsie” en steeds uiters problematies weens ontwerpdefekte. Volgens De Ruyter sou die beurtkragsituasie nou heel anders gelyk het as daar nie grootskaalse korrupsie met die kontrakte was nie. “Korrupsie is die gawe wat nie kan ophou gee nie.”

De Ruyter reken daar word sowat R1 miljard per maand by Eskom gesteel. Ja hy het geweet daar was korrupsie toe hy in die pos begin het, maar hy het gesê staatskaping is soos ʼn kanker wat onsuksesvol behandel is en nou deur die hele liggaam van die organisasie versprei het. “Dit het duidelik geword dat die verrotting baie erger is wat ek verwag het toe ek die pos aanvaar het.”

De Ruyter het in die onderhoud ook verwys na die georganiseerdemisdaadkartelle wat binne Eskom bedryf word. Hy het so ver gegaan as om te sê dat hierdie kartelle hul eie sluipmoordspanne het.

Daar is volgens De Ruyter baie min verduideliking vir die baie ywerige teenkanting om met die energie-oorgang te begin weens die hoeveelheid groot belange in die steenkoolwaardeketting

Hy het ook na ʼn geval verwys waar Eskom kniebeskermers teen R80 000 stuk aangekoop het terwyl dit net sowat R320 per paar moet kos. ʼn Verdagte is in hegtenis geneem in verband met die bedrog, maar is volgens De Ruyter die volgende dag vrygelaat op instruksie van ʼn senior polisiebeampte.

De Ruyter het tydens die onderhoud erken dat beurtkrag een van die kardinale metings is waarop hy misluk het.

“Ek dink ek het misluk met betrekking tot die maklik meetbare doelwitte – beurtkrag. Dit is die groot olifant in die kamer,” het hy gesê. Hy het egter gesê hy glo hy het ʼn strategie vir Eskom suksesvol gedefinieer om uit die krisis te kom – iets wat nou “onherroeplik vasgestel is”.

De Ruyter het gesê dat 2023 ʼn uitdagende jaar vir Suid-Afrika sal wees rakende beurtkrag.

“Fase 6 tydens die winter is hoogs waarskynlik – miskien erger,” het hy gesê. Op ʼn vraag oor wat “miskien erger” beteken het De Ruyter gesê “meer beurtkrag vir langer”.

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon