Archives

EFF ‘meer blaf as byt’

Featured Ad


Julius Malema in die Wes-Kaap. (Foto: EFF/Twitter)

 

Maroela Media – EFF ‘meer blaf as byt’ | Maroela Media

 

 

Talle Suid-Afrikaners is angstig oor die nasionale betoging wat die EFF vir komende Maandag beplan, met foto’s van EFF-lede met semi-outomatiese gewere wat op sosiale media versprei word, tesame met dreigemente dat ondernemings en fabrieke geplunder sal word.

 

Die polisie sê egter daar is geen rede tot kommer dat die betogings handuit gaan ruk nie, omdat die polisie en ander veiligheidstrukture slaggereed is om betogings ʼn nekslag toe te dien. Volgens AO Johan van Dyk, woordvoerder van die Tshwane-polisie, moet mense ook nie alles glo wat op sosiale media versprei word nie en besef dat baie daarvan vals nuus is.

 

AfriForum sê op sy beurt die EFF se planne om die land tot stilstand te bring, gaan misluk.

 

Mense is veral paniekerig oor ʼn gerug wat die ronde doen dat die polisie by die betogings gaan aansluit en inwoners aan hul eie lot oorgelaat gaan word. Uitlatings dat die “land gaan brand” en waarskuwings dat inwoners “alle inkopies voor Maandag moet doen”, doen ook die ronde.

 

“Ons wil lede van die publiek verseker dat dit vals nuus is. Die polisie kan en gaan nie betoog nie,” sê Van Dyk.

 

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, bevestig die blote feit dat die EFF ʼn nasionale skoolvakansiedag gekies het om “skole tot stilstand te bring” dat hulle ʼn gebrek aan slaankrag het om wel skole en die res van die land te sluit.

 

“90% van die publiek steun nie die EFF nie en gemeenskapslede van alle kulture het vantevore tydens onluste in groot getalle teen booswigte in hul eie gemeenskappe opgestaan. Dit gaan op 20 Maart beslis nie goed vir die EFF se gesondheid wees as vredeliewende gemeenskappe hul onvervreembare reg om hul gemeenskappe en hulself teen onwettige aggressie te beskerm, uitoefen nie,” sê Kriel.

 

DA-leier John Steenhuisen sê openbare verklarings deur EFF-leiers, lede en ondersteuners op sosiale media – dat hulle bereid is om die wet te oortree in die nastrewing van hul eie politieke agenda – is kommerwekkend.

 

Steenhuisen lig een spesifieke foto op Twitter uit, waar die EFF-leier in Mpumalanga, Collen Sedibe, in sy rooi EFF-gewaad staan met ʼn semi-outomatiese geweer in die hand. By die foto staan geskryf: “Ons is gereed @EFFSouthAfrica.”

 

Hy verwys ook na ʼn video wat die ronde doen van EFF-lede wat agterop ʼn bakkie staan en ʼn luidspreker gebruik om die betogings aan te kondig. Op die video kan gehoor word hoe die lede skreeu: “Maak al jul winkels toe om die plundering te vermy. Sluit al jul fabrieke om die plunderings te vermy. Maak alles toe; niks sal op daardie dag werk nie.”

 

Brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, sê egter die Nasionale Gesamentlike Operasionele en Intelligensiestruktuur (NatJoints) het die nodige maatreëls ingestel om Maandag enige vorm van geweld en misdadigheid te voorkom en te bekamp.

 

“Wetstoepassingsagentskappe is op ʼn hoë gereedheidsgrondslag om op enige voorval te reageer. Hulle sal hul pligte binne die grense van die wet uitvoer.

 

“NatJoints doen ʼn beroep op alle mense in Suid-Afrika om saam met wetstoepassingsowerhede te werk om die wet te handhaaf en toe te pas. Mense moet nie instem om aan enige optrede deel te neem wat daarop gemik is om die land se wette te oortree nie.”

 

Enige aksie wat daarop gemik is om die wet te oortree, sal dienooreenkomstig binne die bestek van die wet hanteer word, sê Mathe.

 

AfriForum se plaaslike buurtwagte oor die hele land is ook op bystand saam met ander veiligheidsrolspelers.

 

‘Klag teen EFF’

 

Die DA het intussen ʼn aansoek om ʼn dringende hofinterdik aan die EFF beteken, oor beweerde ongebreidelde intimidasie en dreigemente van geweld tydens die beplande nasionale betogings. Indien die interdik slaag, sal die EFF onder meer persoonlik aanspreeklik gehou word vir enige skade wat aan persone, eiendom, lewens en lewensbestaan gerig word tydens die betogings.

 

Met die hofinterdik wil die party ook verseker dat die EFF-leierskap alle intimidasiebriewe wat hulle uitgereik het formeel terugtrek. Die EFF het onder meer ʼn brief aan die OR Tambo-lughawe uitgereik waarin hulle die lughawe-owerhede waarsku om geen vlugte of sakebedrywighede op daardie dag toe te laat nie.

 

Die party wil ook met die regstappe verseker dat die EFF aan die voorwaardes vir permitte voldoen wat deur munisipaliteite uitgereik word om toestemming te gee vir vreedsame protesoptrede.

 

Die DA se prokureurs het ook dokumente opgestel wat deur enige eienaar van ʼn onderneming gebruik kan word om intimidasie aan te meld en formele klagte in te dien. Die polisie word ook hierdeur versoek om enige oortreding van die wetgewing oor betogings, byeenkomste en geleenthede in Suid-Afrika te reguleer, voorkom, bekamp en ondersoek.

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon