Archives

Agri Oos-Kaap en Oos-Kaap RPO vat hande

Featured Ad


Oos-Kaapse rooivleisprodusente sal bevoordeel word deur ‘n samewerkingsooreenkoms tussen Agri Oos-Kaap en die Oos-Kaapse Rooivleisprodusente-organisasie (RPO).

Dit volg ná ‘n amptelike besluit om die Oos-Kaapse RPO binne Agri Oos-Kaap se struktuur te plaas. Agri Oos-Kaap het dit luidens ‘n verklaring aangekondig.

Mnr. Dehan Kukkuk, wat voorheen Agri Oos-Kaap se rooivleiskantoor beman het, is aangestel as heeltydse bestuurder vir die Oos-Kaapse RPO. Kukkuk sal ook ondersteuning ontvang van Agri Oos-Kaap se administratiewe personeel.

Volgens mnr. Charles van der Spuy, voorsitter van die Oos-Kaapse RPO, het die organisasie al vir etlike jare nie ‘n bestuurder nie. Die samewerkingsooreenkoms met Agri Oos-Kaap maak dit nou moontlik om ‘n bestuurder te kan aanstel. Dit is belangrik om iemand in die rol te hê wat dadelik antwoorde en terugvoer vir boere kan gee wanneer ‘n probleem opduik.

“Met die probleme weens uitbrekings van bek-en-klouseer, tekorte aan entstowwe en onderhandelinge met staatsdepartemente is dit belangrik dat daar ‘n bestuurder op kantoor is om dadelik aandag te gee wanneer vrae inkom.”

Hy sê dit is tans ‘n onmoontlike taak vir ‘n heeltydse boer, met beurtkrag wat kommunikasie verder bemoeilik.

Outonoom

Die Oos-Kaapse RPO sal voortgaan met sy normale werksaamhede soos in die verlede, en bly outonoom en onder sy eie identiteit.

Die nuwe struktuur sal twee verskille behels, verduidelik Van der Spuy. Die eerste is ‘n groter kapasiteit danksy Agri Oos-Kaap se personeel wat nou tot hulle beskikking is, en die toets van ‘n nuwe betalingstruktuur wat hopelik beter sal werk as die huidige vrywillige aftrekkings van abattoirs en agente.

Volgens Van der Spuy ondervind die RPO veral probleme met die invordering van vrywillige bydraes van agente. Die bydraes het die afgelope ses maande drasties gedaal, wat die RPO se geldsake onder druk plaas. Sonder die geld kan die organisasie nie funksioneer nie.

‘n Tussentydse komitee, met Van der Spuy aan die stuur en me. Ezra Schoonbee as ondervoorsitter van die Oos-Kaapse RPO, tesame met die RPO se streekverteenwoordigers en verteenwoordigers van Agri Oos-Kaap, sal die prosesse en pad vorentoe, ledestruktuur en nuwe finansieringsmodel binnekort bespreek. Die besprekings sal oorgedra word op Agri Oos-Kaap se jaarkongres in Augustus waar die nuwe komitee amptelik ingestel sal word.

Die nuwe komitee sal steeds dieselfde naam, funksies en doel as die huidige RPO behou, en sal ook bestaande verhoudings met die Oos-Kaapse Nasionale Wolkwekersvereniging, die nasionale RPO en ander instellings soos die nasionale dieregesondheidsforum behou en versterk.

Volgens Van der Spuy is 90% van Agri Oos-Kaap se lede rooivleisprodusente, wat beteken dat die twee organisasies se bedieningsbasis grootliks oorvleuel.

“Albei organisasies is daartoe verbind om te verseker dat die Oos-Kaap, met die grootste aantal lewende hawe in Suid-Afrika, vir sowel die kommersiële as die kommunale sektor, voldoende verteenwoordig is op alle vlakke en binne die gepaste strukture binne die rooivleissektor.”

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon