Archives

Klag gelê oor dreigemente van EFF-staking

Featured Ad


Julius Malema. Argieffoto: @EFFSouthAfrica/Twitter

 

Maroela Media – Klag gelê oor dreigemente van EFF-staking | Maroela Media

 

TLU SA het Vrydag ʼn strafregtelike klag teen die leier van die EFF, Julius Malema, en die party in terme van die Wet op Beskerming van Grondwetlike Demokrasie teen Terroriste- en Verwante Aktiwiteite (Wet 33 van 2004) aanhangig gemaak.

Die klag hou verband met die EFF se dreigemente aan klein ondernemings en fabrieke om op 20 Maart vir die beplande landwye staking te sluit, anders loop hulle die risiko om geplunder te word.

“Die EFF se dreigemente is niks anders as ʼn voorneme van terreur en dus hoogverraad nie,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA.

TLU SA het verder ʼn skrywe aan die regering gerig om uit te klaar hoe die staat beoog om die situasie te stabiliseer en die lewe en besittings van diegene wat nie aan die EFF se protesaksies deelneem nie, teen sabotasie te beskerm.

“Sou die regering nie voldoende optree om die veiligheid van mense, eiendom en die ekonomie tydens hierdie aksie te beskerm nie, is dit eenvoudig ʼn grondwetlike pligsversuim.

“Na ons mening moes die regering rééds ingegryp en die EFF en Malema tot orde geroep het. Dit is onaanvaarbaar dat Malema en sy partylede enigsins toegelaat kan word om steeds in die parlement te sit terwyl hul hulself openlik skuldig maak aan terreurdade.”

Van Zyl sê dit is die EFF se grondwetlike reg om protes aan te teken, mits sodanige aksie geen ander persoon, bates of die ekonomiese proses enigsins bedreig nie. “Maar in hierdie geval is daar egter blatante dreigemente teen diegene wat bereid is om verantwoordelik op te tree en op die dag te gaan werk.”

Die regering sal by gebrek aan optrede om dit te verhoed – terwyl hulle deeglik bewus was van die bedreiging – aanspreeklik gehou word vir alle skade berokken, meen Van Zyl.

“TLU SA-lede sal wel voortgaan met hul werksaamhede om sodoende ʼn bydrae te maak om die land se inwoners te voed. Dit is ons verantwoordelikheid wat ons deur al die jare getrou nakom.”

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon