Archives

Hoogste hof se uitspraak oor waterregte ‘deurslaggewende oorwinning’

Featured Ad


Maroela Media – Hoogste hof se uitspraak oor waterregte ‘deurslaggewende oorwinning’ | Maroela Media

 

ʼn Jarelange stryd oor die verkoop van waterregte is vandeesweek in die land se hoogste hof tot ʼn einde gebring nadat die Konstitusionele Hof beslis het waterregte mag wél verkoop word.

Die uitspraak kom nadat die departement van water en sanitasie in Januarie 2018 al aangekondig het dat waterregte nie meer oorgedra of verhandel mag word nie. Die stap was strydig met sekere bepalings in die Waterwet, asook die departement se eie interpretasie van wetgewing en sy bestaande gebruike wat betref die oordrag van waterregte.

Landbouwatergebruikers het die departement se besluit daarna onsuksesvol in die hooggeregshof betwis, waarna die boere hulle tot die appèlhof gewend het. Hier is in hul guns beslis, maar die staat het na die Konstitusionele Hof geappelleer.

Dié hof het nou ʼn streep deur die departement se besluit getrek en die aansoek eenparig en met koste van die hand gewys.

Die organisasies Agri SA en die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Watergebruikersverenigings (SAAFWUA) het die uitspraak verwelkom en sê dit is ʼn “deurslaggewende oorwinning” vir die houers van waterregte.

Die hof het beslis dat dié houers geregtig is op die oordrag van regte, in ooreenstemming met die Nasionale Waterwet. Die hof het ook bevestig dat die ontvang van finansiële vergoeding vir waterregte wat oorgedra word, in Suid-Afrika nie verhoed word of onregmatig is nie.

Janse Rabie, Agri SA se hoof van regsake en beleid, sê die vermoë om sulke regte van een persoon na ʼn ander oor te dra – en van een eiendom na ʼn ander – is uiters belangrik vir die doeltreffende gebruik van water, die waarde van landbougrond en eiendomsreg in die algemeen.

“Die uitspraak bevestig ons onwrikbare weerstand teen die regering se voortgesette aanval op eiendomsregte,” sê Rabie.

Nic Coetzee, uitvoerende hoof van SAAFWUA, sê die organisasie het al in 2018 gevra vir ʼn verklarende bevel omdat die departement se interpretasie van sekere bepalings van die wetgewing ʼn negatiewe uitwerking op onder meer besproeiingsboere en besproeiingsrade gehad het.

Die uitspraak gaan dié gebruikers nou in staat stel om water doeltreffend en volhoubaar op plaaslike vlak te bestuur, sê Coetzee.

Jaco Minnaar, president van Agri SA, het die applikante en hul regspanne geloof vir hul deursettingsvermoë in die saak.

“Die Konstitusionele Hof se uitspraak gaan die landboubedryf op verskeie fronte bevoordeel,” sê Minnaar.

Hy sê die organisasie gaan intussen voort om met die regering oor beleid te skakel om ʼn regulatoriese en beleidsomgewing en samelewing te skep waarbinne alle boere kan floreer.

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon