Archives

Covid-19-regulasies saai onmin by Nampo

Featured Ad


Vereistes dat mense wat die komende Nampo-oesdag bywoon ingeënt moet wees óf ʼn negatiewe Covid-19-toets moet wys, het sommige lede van die landbougemeenskap die hoenders in.

Die organiseerders sê egter nou hulle het geen ander keuse as om die regulasies, soos deur die regering bepaal, af te dwing nie.

“Dit is nie Graan SA of Nampo se beleid nie, maar wel die regering se beleid wat in die Staatskoerant gepubliseer is,” sê dr. Pieter Taljaard, uitvoerende hoof van Graan SA.

Talle sosialemediagebruikers het die afgelope week hul misnoeë oor vanjaar se toelatingsvereistes te kenne gegee met sommige wat nou dreig om die gewilde landbouskou te boikot.

“Die realiteit is ons bevind ons in ’n sogenaamde oorgangstydperk [waartydens die nasionale ramptoestandregulasies uitfaseer word en daar oor nuwe gesondheidsregulasies besluit word].”

Intussen kan Graan SA dit nie waag om “buite die bestaande lyne” te beweeg nie, sê Taljaard.

“Indien die regering besluit om voor Nampo weg te doen met die regulasies, onderneem ons om óók weg te doen met die toelatingsvereistes. Tot dan is dit ongelukkig die reëls van die land en moet Graan SA die verantwoordelike ding doen.”

Die langverwagte 54ste Nampo-oesdag word vanjaar vanaf 16 tot 20 Mei aangebied, teen ʼn verminderde kapasiteit by Nampo Park buite Bothaville in die Vrystaat. Dit is die eerste keer dat die landbouskou oor vyf dae aangebied word om voorsiening te maak vir die verminderde kapasiteit.

Taljaard het Dinsdag aan Maroela Media verduidelik dat daar vanjaar weer – nes voor die Covid-19-pandemie – by die polisie en verkeersdepartement aansoek gedoen moes word vir ʼn veiligheidsertifikaat en klarings voordat Nampo ’n werklikheid kon word.

 

’n Sogenaamde Covid-19-plan moes egter óók by die owerhede ingedien word om Nampo te mag aanbied.

“Indien ons met Nampo wil voortgaan, moet ons aan die regulasies voldoen. Dit is so eenvoudig soos dit.”

Taljaard sê die skaal waarop Nampo aangebied word, speel ongetwyfeld ook ’n rol in die besluit oor Covid-19-toegangsvereistes.

Die wetgewing vereis tans geen toegangsreëls vir byeenkomste van slegs 1 000 mense binnenshuis en 2 000 mense buite nie, maar waar die getalle oorskry word, mag slegs 50% van die kapasiteit toegelaat word.

“Onder hierdie reël kan ander skoue of byeenkomste dit regkry om voort te gaan. Hulle kan segmenteer en besoekers roteer, wat dit moontlik maak om by die kapasiteit van ʼn bepaalde venue te hou,” verduidelik Graan SA in ’n inligtingstuk.

Ongeveer 20 000 mense oor 40 ha besoek egter daagliks Nampo Park. Dit sluit ook nie eers die 760 uitstallers en hul personeel in nie.

Die gemiddelde besoeker bestee meer as sewe uur by Nampo. “Om Nampo te segmenteer en te beperk tot 2 000 mense op ’n slag per segment is dus nie prakties moontlik en uitvoerbaar nie.

“Vir Nampo om ekonomies voordelig vir uitstallers te wees, moet daar soveel as moontlik besoekers toegelaat word. Uitstallers belê energie, tyd en geld aan hul uitstallings en dit sal onregverdig wees om slegs 2 000 besoekers op ʼn gegewe tydstip toe te laat.”

‘Uitgejou deur ons eie ondersteuners’

Taljaard sê dit is jammer dat die Nampo-oesdag teenkanting op sosiale media ontvang. “Ek dink nie mense verstaan aldag wat en wie Nampo en Graan SA is nie.”

Hy verduidelik dat Nampo nié net ’n geleentheid vir die landbougemeenskap is om besigheid met mekaar te doen nie, maar ook om kontakte op te bou. Dit terwyl Graan SA alles in sy vermoë doen om die landbougemeenskap en spesifiek graan- en oliesaadprodusente se belange te bevorder.

Taljaard sê die regering is maar een van die uitdagings waarvoor die graanbedryf daagliks te staan kom.

“Graan SA en verskeie ander georganiseerde landbou-organisasies is daagliks op die veld, in die arena, besig om saam in hierdie skrum te druk – vir vryheid, regverdigheid, billike en eerlike regeringsdienste, werkende infrastruktuur en ’n veilige land vir ons en ons kinders.

“Deur hierdie reaksie teenoor Nampo 2022 word ons span, insluitend die graanprodusente – deur hulle eie toeskouers uitgejou, gevloek en sleggemaak.

“Die spelers op die veld moet die punte aanteken. Die stryd op die veld is uitdagend genoeg.

Ongeag wat op die pawiljoen aangaan, die spel op die veld gaan voort. Dit is haas onmoontlik as die mense wat jou moet ondersteun, ook teen jou is.

“Help en ondersteun ons eerder. Dit is ’n groot stryd dié en ons speel vir die eindstryd.

“Ons risiko, vir almal betrokke, is eenvoudig net te groot om dit buite die kantlyn te waag. Ons het ’n taak voor hande en dit is om ’n suksesvolle Nampo 2022 aan te bied.”

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon