“‘n Land kan homself nie uit skuld uit leen nie, hy moet homself daaruit presteer – en die 2024-begrotingsrede skep vir Suid-Afrika ‘n dooie ekonomie. Ons staatskuld het met ons weggehardloop en dit kan nie meer onderhou word nie”. Só sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van die landbouorganisasie TLU SA.
Hy meen inwoners van Suid-Afrika is vuisvoos oor die regering se wanaanwending van fondse en korrupsie.
“Jaar na jaar word daar van Jan Alleman verwag om al hoe meer te betaal sonder dat hul enigsins daarby baat. “Die begroting moet as niks minder as net ‘n instrument van die regerende party gesien word nie. Die begrotingsrede is veronderstel om ‘n uiteensetting te wees van hoe ons belastinggeld tot ons voordeel aangewend word. Dit is egter hoegenaamd nie die geval vir die landbousektor nie.”
Luidens die begrotingsrede is R6 miljard oor mediumtermyn toegeken om boere deur grondherverdeling en verblyfreghervormingprogramme te ondersteun. ‘n Verdere R27,7 miljard is toegeken aan landbou en landelike ontwikkeling.
“Ons vraag aan die regerende party is dus: Wat word gedoen met ons geld, en waar is die ondersteuning aan ons kommersiële boere?” vra Van Zyl.
We use cookies to ensure that we give you the best experience on our website. I hereby accept the the Privacy Terms in accordance with the POPIA Act. If you continue to use this site we will assume that you are happy with it.AcceptDeclinePrivacy policy
You can revoke your consent any time using the Revoke consent button.Revoke consent