Archives

Waarom die nuwe minister van elektrisiteit ag moet slaan op die woorde van voormalige Eskom-hoof

Featured Ad


Deur prof. David Richard Walwyn, Universiteit van Pretoria

 

(Argieffoto: Du Preez de Villiers)

 

Maroela Media – Waarom die nuwe minister van elektrisiteit ag moet slaan op die woorde van voormalige Eskom-hoof | Maroela Media

 

ʼn Maand gelede het Suid-Afrikaanse burgers ʼn paar harde waarhede oor die stand van die kragvoorsiener, Eskom, vanaf die uittredende uitvoerende hoof, André de Ruyter, gehoor.

 

In ʼn onderhoud wat op televisie uitgesaai is, het De Ruyter beskuldigings gemaak oor die rol van kriminele bendes sowel as politici in korrupsie wat dié nutsdiens lamlê. Die onderhoud het gelei tot sy onmiddellike vertrek – hy sou aanvanklik ʼn paar weke later vertrek – aangesien die regerende ANC hom verbaal aangeval het.

 

Maar na my mening sal Suid-Afrikaanse burgers – veral die nuwe minister van elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa – goed aangeraai word om noukeuriger te kyk na wat De Ruyter gesê het, eerder as om die boodskapper te probeer aanval.

 

De Ruyter het vier vlakke geskets waarop Eskom vernietig word.

 

Eerstens is daar die kwessie van ʼn gebrek aan politieke steun vanaf die kabinet vir ʼn hernuwingstrategie vir Eskom wat De Ruyter probeer implementeer het. Dié plan het die hantering van misdaad ingesluit, die skeiding van die bestaande entiteit in drie verskillende maatskappye (opwekking, transmissie en verspreiding) en met verloop van tyd, die ontkoling van energieopwekking. Dit het effektief beteken dat steenkoolkragstasies mettertyd gesluit en met hernubare energiebergingsvermoë vervang sou word.

 

Tweedens het De Ruyter uiteengesit hoe Eskom steeds geïnfiltreer word deur sistematiese korrupsie waarby private individue en maatskappye betrokke is wat openbare bates vir persoonlike gewin gebruik. Die patroon van staatskaping het in alle erns begin onder die presidentskap van Jacob Zuma, maar hierdie rolspelers het voortgegaan om kragtige belange binne die maatskappy te hou, insluitend kontrakte vir steenkool, konstruksie en instandhouding. Hulle is hoofsaaklik huursoekers en kry geld vir geen toegevoegde waarde nie.

 

Derdens is daar georganiseerde misdaad. Hierdie groepe word onderskei van die agente van staatskaping. Hulle beheer hoe geld vloei asook die bedrywighede van verskeie kragstasies. Eskom het byvoorbeeld beheer verloor oor Tutuka, een van die groter steenkoolkragstasies wat minstens drie GW (12% van die totale vraag) behoort op te wek. Tog is die beskikbaarheid van energie vanaf die aanleg nou ʼn oogstrelende 12% van sy kapasiteit.

 

Ten slotte het De Ruyter opsetlike wanfunksionering en klein misdaad as ʼn groot bedreiging geïdentifiseer. Enigeen wat die wet kan oortree, doen dit sonder gevolge.

 

Baie van die hulpbronne en mag wat nodig is om probleme op al vier vlakke op te los, is in die minister van elektrisiteit of die regering se beheer. Hy moet die kabinet agter ʼn hernuwingstrategie kry wat in lyn is met die wêreldwye energie-oorgang, hy moet die polisie kry om hul werk met bekwaamheid te doen, en hy benodig ʼn kragtige Eskom-hoof wat plaaslike legitimiteit en ondersteuning het.

 

En hy moet dadelik optree.

 

Die diepte van die krisis

 

Suid-Afrika se elektrisiteitsvoorsieningskrisis was nog nooit so ernstig nie. Dit blyk duidelik uit die data wat Eskom op sy dataportaal publiseer.

 

Beurtkrag het nou tot 15% van die totale vraag gestyg. Dit beteken dat benadeelde kragverbruikers ten minste 5,5 uur vir elke 24 uur-siklus sonder krag is:

 

(Bron: David Richard Walwyn)

 

Soos die figuur toon, neem beurtkrag elke maand toe, met Februarie vanjaar wat die ergste tot op hede was.

 

(Die data in die grafiek is gebaseer op werklike versende generasie teenoor die verwagte aanvraag, waar laasgenoemde deur Eskom verkry word uit historiese gebruikspatrone.)

 

Net toe Suid-Afrikaanse burgers gehoop het die situasie kan verbeter, het dit versleg. In Mei verlede jaar was beurtkrag 2% van die totale vraag. Hulle het toe nog vertroue gehad in president Cyril Ramaphosa se vermoë om die krisis op te los met sy sespunt-aksieplan.

 

Sedertdien het die land ʼn rits verbreekte beloftes verduur, plofbare onthullings uit die De Ruyter-onderhoud gehoor en die verdere ineenstorting van die steenkoolvloot aanskou.

 

Hoe langer die krisis duur, hoe meer sal Eskom se energiemark krimp. Deur die data van die laaste paar jaar te gebruik, is dit moontlik om te modelleer wat met die vraag na energie gebeur en wat in die toekoms kan gebeur.

 

Ongeveer nege GW van Eskom se kliëntebasis is onaantasbaar – hierdie kliënte word nie deur Eskom geraak nie en sal waarskynlik nie alternatiewe toevoer verkry nie. Ons weet ook dat ongeveer nege GW se vraag, wat hoofsaaklik aan die Energie-intensiewe Gebruikersgroep toegewys word, oor die volgende twee tot drie jaar deur interne opwekking vervang sal word.

 

Gekombineer met die groeiende gebruik van sonkrag op die dakke van residensiële en kommersiële geboue, is my voorspelling, gebaseer op my modelleringstudies, dat die verskuifde vraag teen Maart 2026 11 GW sal wees, wat ʼn oorblywende vraag op die nasionale netwerk op 14 GW laat, of sowat 40% van die gemiddelde vraag in 2020.

(Bron: David Richard Walwyn)

 

As Eskom nie die elektrisiteit wat hy opwek kan verkoop nie, sal bedryfskoste vinnig die inkomste oorskry. Die uitdaging is dus nie net om opwekking te herbou nie, maar ook om hoëwaarde-klante, wat na sonkrag oorskakel, te behou.

 

Wat sal help?

 

Alle oë is op die nuwe minister van elektrisiteit. Het hy die vaardighede, energie en politieke invloed om die energiekrisis op te los? Of sal sy aanstelling ʼn reeds onsamehangende portefeulje verder vertroebel?

 

Minister Ramokgopa moet drie belangrike take by sy aksieprogram voeg. Hy moet leer uit die De Ruyter-onderhoud (en die probleme wat hy geïdentifiseer het aanspreek), hy moet Eskom vinnig ontbondel en hy moet probleme oplos wat die implementering van die hernubare energieprogram vertraag.

 

Minister Enoch Godongwana het in sy begrotingsrede dit duidelik gemaak dat die stigting van die Nasionale Transmissiemaatskappy van Suid-Afrika ʼn prioriteit is. Alhoewel die nasionale tesourie R254 miljard gaan leen om Eskom te laat oorleef, kan die fondse slegs gebruik word om die bates van die transmissiemaatskappy te verseker en uit te brei. Die implikasies van hierdie posisie is duidelik – verkoop die opwekkingskapasiteit aan private beleggers en laat verspreiding aan plaaslike owerhede oor, waar dit moontlik is.

 

Een aspek van die De Ruyter-onderhoud wat grootliks geïgnoreer is, is die kwessie van die program vir hernubare energie en hoe dit ontspoor is ondanks die ooglopende voordele daarvan in terme van laer energiekoste en minimale waterverbruik. Soos De Ruyter genoem het, as die program op koers gebly het, sou Suid-Afrika 98% van die 2022-beurtkrag vermy het.

 

Boonop sal die sluiting van verskeie Eskom-steenkoolaangedrewe waterverkoelde kragstasies miljarde liters water vrystel vir gebruik in huishoudelike toepassings, besparings wat noodsaaklik sal word vir ʼn waterskaars land. Die sluiting van hierdie stasies sal ook die luggehalteprobleme en die voortdurende oortredings deur Eskom van sy vrystellingspermitte hanteer.

 

Dit is nou duidelik dat niks Eskom in sy huidige toestand sal red nie. Dit sal aansluit by ʼn lys van staatsbeheerde entiteite wat ʼn fraksie van hul vorige funksioneringskaal word – die poskantoor, die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) en die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa).

 

Hoe ver Eskom sink, sal afhang van hoe doeltreffend minister Ramokgopa in sy nuwe pos kan wees.

 

David Richard Walwyn is ʼn professor in tegnologiebestuur aan die Universiteit van Pretoria.

Oorspronklik gepubliseer op The Conversation

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon