Archives

Drie dinge wat boere moet weet oor wêreldekonomie

Featured Ad


Prof. Johan Willemse Foto: Vida Booysen

 

Landbou.com – Drie dinge wat boere moet weet oor wêreldekonomie | Landbou

 

Dis nie net die Suid-Afrikaanse ekonomie wat in die moeilikheid is nie. Wêreldwyd word groot ekonomiese probleme tans getrotseer, sê prof. Johan Willemse, onafhanklike landbou-ekonoom en rubriekskrywer van Landbouweekblad.

 

Hy het boere op sy markinligtingsdag in Bloemfontein gemaan om nie net in Suid-Afrika se probleme vas te kyk nie, want dit wat nou in die internasionale ekonomie en geopolitiek gebeur, skep onstabiliteit en kan boerderybesluite vorentoe beïnvloed.

 

“kwessies soos wanneer die optimale tyd is om nuwe masjinerie te koop, te midde van ‘n randverswakking en stygende rentekoerse, kan binnekort ‘n groot debat word. Want as ons nie ou toerusting vervang nie, bly ons agter.”

 

Hy het drie neigings uitgelig wat die internasionale en plaaslike ekonomiese vooruitsigte tans knou.

 

1. Groei het momentum verloor

 

Hoër inflasie het oor baie lande en produkte heen uitgebrei en dit bly hardnekkig hoog. Dit skep die risiko dat ekonomiese groei vanjaar eerder verder gaan daal as styg, het Willemse gesê. Daarby kan tekorte aan energievoorraad pryse verder opstoot. Die Suid-Afrikaanse ekonomie gaan volgens die Internasionale Monetêre Fonds se jongste voorpelling slegs met 0,1% in 2023 groei.

 

Die probleem vir veral vleisprodusente is dat lae ekonomiese groei beteken verbruikers draai hul sente twee keer om. “As die ekonomie groei en mense het geld, dan koop hulle steaks, maar nou is besteebare inkomste baie min.”

 

Daarby leef veeboere veral in die intensiewe veebedryf reeds swaar weens hoë insetkoste. Hoewel sulke prysstygings siklies van aard is, is daar die afgelope paar jaar deurlopende prysdruk op die bedryf.

 

2. Rentekoerse: draaipunt lê nog voor

 

Ondanks een van die grootste bankkrisisse in dekades in Amerika het die federale reserweraad op 22 Maart sy rentekoers weer met 25 basispunte verhoog. Jerome Powell, voorsitter van die raad, het gesê in dié stadium is daar nie sprake van enige verlaging nie.

 

In teorie is die medisyne teen hoë inflasie om rentekoerse te verhoog, het Willemse verduidelik. “Maar hierdie model werk op die oomblik nie so lekker nie, want dit verhoog ook die finansiële kwesbaarheid van banke.” Die bankkrisis word onder meer veroorsaak deur die skerp styging in rentekoerse die afgelope twee jaar ná rekordlae vlakke tydens die covid-19-pandemie.

 

Die gevolge kring selfs tot in die Suid-Afrikaanse landbou uit, het Willemse uitgewys. Hy het verwys na hoë rentekoerse as “die boere-bankrotmaker” en gesê die Suid-Afrikaanse Reserwebank sal waarskynlik geen ander keuse hê nie as om op 30 Maart sy prima uitleenkoers ook nog ‘n keer te verhoog nie, om te keer dat buitelandse beleggers hul geld onttrek en belê waar dit ‘n beter opbrengs kan behaal.

 

Maar daar is lig aan die einde van dié tonnel. “Dit lyk tog vir my asof ons naby aan die spits van rentekoersverhogings kom. As dit nóg verhoog, gaan ons wêreldwyd in die moeilikheid wees.”

 

Die rand se huidige swakte is dollarverwant, het Willemse gesê. “Op die oomblik verswak die dollar, want beleggers is bang vir die bankkrisis. Ek kan moeilik sien dat die rand binnekort sal terugkeer na R17/$ gegewe al die moeilkheid in die wêreld.”

 

 

3. Geopolitieke spanning neem toe

 

Sedert die covid-19-pandemie en die oorlog in Oekraïne neem geopolitieke konflik toe. In die proses word nuwe handels- en ekonomiese blokke geskep. “Dit word nou Amerika en die Weste teen Rusland en China. Deglobalisasie het die neiging geword, met lande wat eerder inwaarts as uitwaarts kyk.”

 

Willemse sê die Brics-lande (Brasilië, Indië, China, Rusland en Suid-Afrika) is besig om te werk aan ‘n eie geldstelsel om die dollar te troef. “Dit gaan nie oornag gebeur nie, maar dit is die rigting waarheen hulle beweeg. Hoe dit oor tyd sal uitspeel, moet ons nog sien.”

 

Suid-Afrika skaar homself ideologies by Brics en sy alliansie met Rusland en China. Maar met tot 50% van Suid-Afrikaanse landbou se inkomste wat van uitvoer verkry word, is die vraag of Suid- Afrika die regte handelsvennote gekies het in China en Rusland. “Die implikasies hiervan moet deurdink word. Veral die Agoa-voorkeurhandelsooreenkoms waarvolgens sekere Suid-Afrikaanse landbouprodukte tariefvry na Amerika uitgevoer word, is in gevaar.”

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon