Archives

VSA bevind SA stort suurlemoensap

Featured Ad


Landbou.com – VSA bevind SA stort suurlemoensap | Landbou

 

Die Amerikaanse internasionale handelskommissie het verlede maand bevind dat sy suurlemoensapbedryf wesenlike skade ly, of bedreig word deur wesenlike skade, weens die invoer van suurlemoensap uit Suid-Afrika en Brasilië teen minder as billike waarde.

 

Die kommissie sê in ’n kort verklaring die Amerikaanse departement van handel gaan daarom opdrag gee dat teenstortingstariewe op dié invoer gehef word.

 

Die kommissie sal op 2 Maart ’n verslag bekend stel waarin inligting vervat sal word oor die ondersoeke wat tot die bevinding gelei het, asook sy kommissarisse se sienings.

 

Mnr. Rudi Richards, hoofbestuurder van die Suid-Afrikaanse bedryfsorganisasie vir vrugteversappers (Safja), sê die organisasie is teleurgesteld oor wat die uitkoms waarskynlik gaan wees.

 

Hy wou in dié stadium nie meer kommentaar lewer nie. “Ons moet wag vir die volle verslag om die besonderhede te bestudeer en die gevolge te verstaan.”

 

Die ondersoek in Amerika het gegaan oor suurlemoensap wat as ’n bestanddeel in koeldranke gebruik word, onder meer in lemonade, en in voedsel soos slaai- en ander souse.

 

Die kommissie het in Februarie 2022 in sy voorlopige verslag gesê hy het op 30 Desember 2021 ’n versoek vir ’n teenstortingsondersoek ontvang van die Kaliforniese onderneming Ventura Coastal LLC.

 

Die versoek is luidens die verslag deur Safja teengestaan, asook deur Coca-Cola in Amerika, wat suurlemoensap uit Brasilië koop, Global Natural Foods, wat Brasiliaanse suurlemoensap invoer, en Greenwood Associates, wat suurlemoensap uit Suid-Afrika invoer.

 

Suurlemoensap uit Suid-Afrika kom daarvoor in aanmerking om kragtens die Amerikaanse wet op groei en geleenthede in Afrika (Agoa) tariefvry ingevoer te word, terwyl invoer van Brasiliaanse suurlemoensap onderhewig is aan tariewe van 3,4-7,9 Amerikaanse sent per liter. (1 Amerikaanse dollar is nou sowat R17 werd.)

 

Luidens die verslag was Brasilië se aandeel in die totale hoeveelheid ingevoerde suurlemoensap in Amerika van Januarie tot September 2020 6,7% en van Januarie tot September 2021 14,4%. Suid-Afrika s’n in dieselfde tydperke was 9,3% en 13,7%.

 

Mnr. Eckart Naumann, onafhanklike ekonoom en assosiaat van die Stellenbosse handelsregsentrum tralac, het in Mei verlede jaar in ’n artikel op die tralac-webblad geskryf dat Ventura Coastal in sy versoek aan die kommissie beweer het dat die stortingsmarge 128,61% was en dat die kommissie dit in sy voorlopige ondersoek tot 97,15% verlaag het. Die handelsdepartement kan dié marge op- óf afwaarts aanpas.

 

Naumann het verder geskryf volgens US Dataweb se databasis het Suid-Afrika in 2020 18,66 miljoen liter suurlemoensap na Amerika uitgevoer en in 2021 29,76 miljoen liter. Die waarde daarvan was $8,76 miljoen in 2020 en $11,22 miljoen in 2021. Teen die huidige wisselkoers is dit onderskeidelik R152,3 miljoen en R195 miljoen.

 

Groei in vars uitvoer na China

 

Mnr. Justin Chadwick, uitvoerende hoof van die Suider-Afrikaanse Sitruskwekersvereniging, skryf intussen in ’n nuusbrief dat die uitvoer van vars suurlemoene na China verlede jaar goed gestyg het.

 

Volgens ’n grafiek het dit van minder as 1 000 ton in 2021 tot meer as 7 000 ton in 2022 gestyg. “Hoewel dit vanaf ’n lae basis was, hou die groot styging goeie belofte vir die toekoms in,” sê hy.

 

“Die nuwe verskepingstemperature is meer aanvaarbaar vir suurlemoene, wat gevoelig is vir koueskade.” Uitvoerders het gesê die nuwe temperatuurvereistes beteken dat die vrugte in ’n uitstekende toestand in China aangekom het.

 

Volgens Chadwick was die markdinamika vir suurlemoene in China nie verlede jaar ideaal nie, maar dit behoort in die toekoms te verbeter.

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon