Archives

Ekonomiese groei trap rem oor beurtkrag

Featured Ad


Landbou.com – Ekonomiese groei trap rem oor beurtkrag | Landbou

 

Die ouditeursfirma PwC sê in sy jongste ekonomiese vooruitskouing vir Suid-Afrika die 208 dae beurtkrag wat Suid-Afrika verlede jaar beleef het, het ’n verlies van bykans 5 persentasiepunte in die reële bruto binnelandse produk veroorsaak. Dit beteken die ekonomie kon laasjaar met amper 7% gegroei het, as dit nie vir die langdurige beurtkrag was nie.

 

Dié beraming volg kort op die hakke van die Suid-Afrikaanse Reserwebank se skok-aanpassing verlede week aan sy groeisyfers vir 2023. Waar die bank in November laasjaar nog beraam het dat die ekonomie vanjaar teen 1,1% sou groei, is daardie syfer nou tot slegs 0,3% verlaag. Volgens die bank is die vernaamste rede vir dié afwaartse aanpasing die skaal en omvang van beurtkrag.

 

Ekonome van die buro vir ekonomiese navorsing (BER) se data dui ook op ekonomiese groei van laer as 1% vir vanjaar. Die groep wys daarop dat die Suid-Afrikaanse ekonomie in staat is om fase 1- of fase 2-beurtkrag te hanteer, maar nie die huidige aanhoudende fases van vlak 4 en hoër nie. Beurtkrag het in Januarie vanjaar tot hoër fases en meer aaneenlopende tydperke vererger. Dit tref veral die landbouwaardeketting baie erg en belanghebbendes in die sektor waarsku dat dit voedselsekerheid kan aftakel.

 

In sy vooruitskouing sê PwC dat dit nou moeiliker raak om die impak van beurtkrag te bereken omdat groot maatskapppye reeds stappe gedoen het om dit te versag, soos om oor te skakel na sonkrag of groot diesel-kragopwekkers. “Om net een voorbeeld te noem; Suid-Afrika het in 2022 meer as R5 miljard se sonpanele ingevoer teenoor R4 miljard in die vorige jaar. Ons bereken dat hierdie sonpanele ’n bykomende 2 000 MW se opwekkingskrag in 2023 sal verskaf,” lui die verslag. Dit is genoeg om die res van Suid-Afrika van een beurtkragfase te red.  PwC het die koste-impak van beurtkrag in 2021 op R50 per kilowatt-uur verreken maar meen dis nou laer juis omdat soveel huishoudings en groot ondernemings nou permanente alternatiewe kragbronne gebruik.

 

Maar dit verreken nie die ekonomiese pyn vir kleiner sake-ondernemings wat ’n klein deel van die BBP beslaan, maar ’n groot aantal mense werk gee nie en bydra tot maatskaplike stabiliteit en voedselsekerheid, gee die verslag toe. “Hierdie klein ondernemings beleef meer onproduktiewe tye, hoër verskaffingsketting-koste en groter sekuriteitsrisiko’s omdat die ligte nie brand nie.” 

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon