Sprinkane: Die belangrikheid van bespuitingsregulasies - Agri Online

Archives

Featured Ad


Sprinkane: Die belangrikheid van bespuitingsregulasies

Verlede jaar het sprinkane die Noord-Kaap met mag en mening getref. Gelukkig het die sprinkaanbeamptes en die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling vinnig gereageer en die grootste probleem is voorkom. Dit was egter net ’n wekroep en laat verlede jaar, nadat die eerste lentereën geval het, het die eerste sprinkane weer kop uitgesteek. In ander provinsies soos die Oos-Kaap en die Vrystaat word dit ’n groot probleem.

Volgens kenners lê een sprinkaan sowat 380 eiers in haar lewe van 78 dae en dié eiers broei binne 14 dae uit. Twee tot drie generasies kan dus in een seisoen voorkom met katastrofiese gevolge omdat dié insekte weiding en aangeplante gewasse kan opvreet.

Is daar te veel regulasies?

Om die probleem hok te slaan is egter ook nie so maklik nie. Dit moet op ʼn georganiseerde manier gedoen word en daar is baie wetgewing rondom bestryding van dié insekte. Maar vir talle boere is dit ’n omslagtige probleem. Daar is baie reëls en regulasies vir die bespuiting van sprinkane wat neergelê word en vir sommige boere is dit eintlik ’n mors van tyd, want die ratwerk van die regering werk hopeloos te stadig vir ’n boer wat probeer om sy oes of sy weiding te beskerm.

As ’n mens egter die reëls en regulasies bestudeer, verstaan jy waarom wette gebruik moet word om die sprinkaanplaag op so ’n manier te beheer dat dit tot voordeel van almal in Suid-Afrika sal wees.

Wat sê die Grondwet?

Die Grondwet van Suid-Afrika sê juis dat dit elkeen se reg is om in ’n veilige omgewing te woon, maar dit hang ook af van hoe ’n mens na hierdie bepaling kyk. Beteken dit veilig in terme van voedselsekerheid, veilig in terme van veiligheid van waterbronne, of selfs veilig in terme van ’n volhoubare biodiversiteit van die natuur? Elkeen sien die probleem vanuit ’n ander perspektief en die staat is verantwoordelik vir almal se veiligheid.

Daar is baie faktore wat chemiese sprinkaanbestryding kan beïnvloed. Verkeerde gebruik van chemiese gifstowwe kan oneffektief wees en dit kan gevaarlike gevolge op natuurlike hulpbronne hê. Uiteindelik kan dit ook ’n groot invloed hê op die mens en die omgewing. Daarom moet die Wet op Landbouplae, 1983 (Wet 36 van 1983) en die Wet op Misstowwe, Veevoere, Landboumiddels en Veemiddels (Wet 36 van 1947) ingespan word om die bestryder te dwing om volgens die voorskrifte van die gifstowwe te werk.

Standaard opleiding vir bestryders

Bestryders moet ook eers opleiding ontvang voordat hulle toegelaat word om die werk te doen. Die rede hiervoor is voor die hand liggend. Die belangrikste redes hiervoor is om die probleem die hoof te bied, die natuur te beskerm én om die betrokke persone wat die werk doen te beskerm.

Die hoof sprinkaanbeampte van Agri Noord-Kaap, Carlo Nolte, sê die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling bied graag kursusse vir voornemende spuiters aan. Persone wat belangstel om die kursus te doen, kan hom skakel by 082 691 3079 of die naaste departementskantoor kontak.

Gesondheidsimplikasies van bespuiting

Die Nasionale Gesondheidswet, 2006 (Wet 61 van 2006) bepaal dat bestryders voorsorg moet tref om hulself te beskerm. In die verlede was daar ook reeds gevalle waar sprinkaanbestryders siek geword het omdat hulle nie die nodige beskermde klere gedra het nie.

Volgens die regulasies van sprinkaanbestryding moet ʼn hele sprinkaanbestrydingseenheid onttrek word as een van sy lede siek word as gevolg van toediening van sprinkaanspuitstof. Gevalle waar persone siek word moet ook volgens wet aangemeld word en die nodige noodhulp moet by elke spuitspan beskikbaar wees.

Bewaar natuurlike hulpbronne

Sprinkane kan ook nie sommer op enige plek gespuit word nie. Volgens die Wet op Natuurbewaring, 1998 (Wet 10 van 1998) en die Wet op die Bewaring van Landbouhulpbronne, 1983 (Wet 43 van 1983) mag daar nie gespuit word waar dragtige diere, swerms voëls, groente of vrugte (veral kort voor die rypwordfase) en visse aangetref word nie. In sulke gevalle moet die swerms eers kans gegee word om weg te beweeg.

Bestryders moet ook versigtig wees vir die gebruik van chemiese middels op plase, sowel as natuur- en voëlbewaringsgebiede.

Volgens die Waterwet, 1956 (Wet 54 van 1956) mag daar ook nie oor enige privaat of publieke waterbronne of enige staande waterbronne gespuit word nie. Dieselfde geld vir bewoonde gebiede.

Wie dra die verantwoordelikheid?

Dit is dus duidelik dat die ‘omslagtige’ prosedures met die talle reëls en regulasies wat gevolg moet word, daargestel is om almal in Suid-Afrika te beskerm – veral die diere wat nie hulself kan beskerm nie.

Die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, wat verantwoordelikheid aanvaar vir die bestryding van sprinkane, weet ook hulle kan dit nie op hul eie doen nie. Daarom word die privaat grondeienaar ook deel van die span en daar word van privaat eienaars en opkomende boere verwag om betrokke te raak by die bestryding van sprinkane.

Volgens die Wet op Landbouplae is dit ook die grondeienaar se verantwoordelikheid om sprinkaanswerms aan sy sprinkaanbeampte te rapporteer en om by die bestryding van die plaag betrokke te raak.

Verlede jaar is dit weer eens bewys dat, ten spyte van die omslagtigheid in die regering se ratwerke, sprinkane in verskeie gebiede met groot sukses bestry is en met die aanbreek van die somermaande en reën wat geval het, is die probleem in dié  gebiede nie so groot nie. As almal saamwerk en inval by dié ratwerke, kan die probleme die hoof gebied word – anders gaan dit in die toekoms net groter word. – Koos du Pisanie, AgriOrbit

Comments

mood_bad
  • No comments yet.
  • Add a comment
    Right Menu Icon