Archives

Regering vra Solidariteit se hulp met Eskom-krisis

Featured Ad


Solidariteit het Dinsdag ʼn brief van Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, ontvang waarin hy Solidariteit vra om met vaardighede te help om die Eskom-krisis in die land te takel.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê die vakbond het name van honderde kundiges wat hand opgesteek het om te help.

“Ons sal help as Eskom en die regering werklik gereed is om hulp te ontvang,” het Hermann Dinsdag op sy Facebook-blad geskryf. Hy het ook ʼn gedeelte van die brief gepubliseer.

In dié brief bedank Gordhan Solidariteit vir sy aanbod in Mei om te help om broodnodige tegniese en ingenieursvaardighede te verskaf om Eskom met sy opwekkingsuitdagings te help.

“Die tipe ingenieurs- en tegniese vaardighede wat Eskom benodig is kragstasieingenieurs (meganies, elektries, kern, stelsel en onderhoud), senior ambagsmanne en aanlegoperateurs (steenkool- en kernaanlegte),” lui die brief.

Die brief van Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, aan dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Die minister vra Solidariteit om, gegewe die dringendheid van die situasie, die lys van kundiges aan die regering te verskaf wat by Eskom ontplooi kan word.

Honderde sosialemediagebruikers het op Hermann se plasing gereageer.

“Goeie gebaar van die minister, gryp asseblief die geleentheid aan. Daardeur sal nog sulke geleenthede na vore kom. Wees die reddingsboei,” het Leon van Vuuren geskryf.

Anél van Rooyen Coomans het gevra of Solidariteit nie maar die land kan regeer nie.

“Hierdie is die beste nuus in ʼn lang tyd. Ek vertrou alles kan enduit klopdisselboom loop en dat daar lig aan die einde van die toneel is,” het Isabelle Rousseau gesê.

Tessa van der Walt sê “erkenning is die begin van genesing”.

Sommige gebruikers was egter skepties en het gesê dat duidelike diensooreenkomste aangegaan sal moet word om onregverdigheid te voorkom.

Ander het ook versoek dat kundiges aangestel word om die grootskaalse korrupsie in Eskom uit te roei.

Maroela Media het vroeër berig dat Solidariteit die afgelope twee weke oorval is deur versoeke van mense wat hulp benodig om hul aansoeke om permitte om krag op te wek by die Nasionale Energiereguleerder af te handel.

Solidariteit het vroeër aangekondig dat hy ʼn hulplyn beskikbaar stel om diegene wat wil aansoek doen om ʼn permit om krag op te wek en dit in die netwerk in te voer, te help.

Connie Mulder, hoof van Solidariteit se navorsingsinstituut, sê weens die magdom versoeke moes die organisasie bykomende hulpbronne toewys om al die navrae te help hanteer. Dit sluit in navrae van diegene wat reeds krag kan opwek, maar wag vir die toestaan van ʼn permit én diegene wat op die punt staan om krag aan die netwerk te kan lewer.

Mulder sê private opwekking is die oplossing vir die toekoms. Hy sê hoewel Eskom voorheen al aangedui het dat hy ten gunste daarvan is, pootjie die praktiese werklikheid van Eskom se omset, inkomste en skuldvlak hom egter.

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon