Archives

Nou soek Eskom geld as jy nié sy krag verbruik

Featured Ad


Eskom vra nou vir ‘n tarief vir verbruikers wat minder krag as die gemiddeld gebruik.

Eskom se voorstel aan die Nasionale Energiereguleerder – dat verbruikers moet opdok as hulle minder krag verbruik – is Maandag uit talle oorde skerp gekritiseer.

Die sukkelende kragvoorsiener, wat die afgelope ruk die kwaaiste beurtkragskedule in die land se geskiedenis ingestel het, vra Nersa nou boonop ook vir ʼn verhoging van 32,7% in die prys van krag.

Kevin Mileham, die DA se woordvoerder oor minerale hulpbronne en energie, het die voorstel as “immoreel” en “beledigend” vir Suid-Afrikaners bestempel.

Die party sê Eskom verwag nou van Suid-Afrikaners, wat reeds sukkel om liggaam en siel aanmekaar te hou, om op te dok vir ʼn diens wat hy in die eerste plek nie ordentlik kan lewer nie.

“Daar kan nie van verbruikers verwag word om Eskom se onvolhoubare sakemodel en die ANC se dekades lange versuim om die energiemark vir onafhanklike kragprodusente (IPP’s) oop te stel, te subsidieer nie,” sê Mileham.

Mileham sê Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energie, bou pleks daarvan lugkastele oor ʼn “nuwe Eskom-entiteit wat met Eskom kan meeding”.

Een van die voorstelle wat Eskom in sy voorlegging aan Nersa maak, is ʼn buitensporige tarief wat sal beteken huishoudings wat minder krag gebruik – omdat hulle byvoorbeeld ʼn sonkragstelsel geïnstalleer het – sal nou meer moet betaal.

“Die DA neem kennis van en verwerp Eskom se nuwe kragtariefvoorstel wat beteken huishoudings sal honderde rande meer moet opdok omdat hulle minder krag verbruik. Huishoudings wie se kragverbruik minder as die gemiddelde verbruik in Suid-Afrika, asook diegene met sonkrag is, sal maandeliks honderde rande meer moet betaal,” sê Mileham.

Die Vryemarkstigting sê sprake van ʼn tweede kragvoorsiener wat deur die regering besit en bedryf word om met Eskom mee te ding, wek groot kommer en gaan net die land se kragkrisis vererger.

Monopolie veroorsaak kragkrisis

Volgens die stigting is die krisis weens Eskom se monopolie veroorsaak en dit moet so gou moontlik beëindig word. Huidige wetgewing bepaal dat “geen persoon sonder ʼn lisensie elektrisiteit mag opwek, versprei, deurstuur of verhandel” nie. Die stigting sê deur wetgewing te wysig en die woord “geen” met die woord “enige” te vervang, kan die situasie omgekeer word.

Elektrisiteitopwekking en -verspreiding word as tegnies ingewikkeld beskou en daarom sal dit glo nie veilig wees vir sommer enigiemand om aan die netwerk te koppel en krag te begin toevoer nie. Die stigting sê dit is Eskom en Nersa se probleem, en moontlik dié van munisipaliteite.

“Die instellings behoort gewone Suid-Afrikaners te smeek om krag op te wek en dit in die nasionale netwerk in te voer,” sê Martin van Staden, ʼn uitvoerende komiteelid van die Vryemarkstigting.

Hy sê as deel van die projek behoort hulle boonop aan te bied om, teen Eskom en Nersa se eie onkoste, Suid-Afrikaners te help om die stelsels op te rig en oortollige krag veilig en doeltreffend in die netwerk in te voer.

Dit sal dadelik druk van die bestaande netwerk afhaal.

Gewone SA’ners kan probleem help oplos

Die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) het onlangs in ʼn verslag oor die land se kragkrisis verwys na Viëtnam, wat binne net ʼn paar jaar sy kragtekorte opgelos het. Die land het groot aansporing gegee aan gewone burgers wat tuis krag opgewek en dit in die netwerk ingevoer het.

Dr. Dirk Hermann, bedryfshoof van Solidariteit, het vroeër ook gevra vir ”grootskaalse kleinskaalse opwekking” in ʼn poging om die kragkrisis te help oplos.

Morné Mostert, woordvoerder van AfriForum, sê die burgerregtegroep neem jaarliks deel aan die proses oor tariefverhogings en gaan dit vanjaar weer doen. “Ons moet onthou dat dít nog net ʼn aansoek is; dit is nog nie aanvaar nie,” sê hy.

Uiteindelik word mense, weens Eskom se swak prestasie, gedwing om hul eie opwekkingsvermoë uit hul sak op die been te bring, sê Mostert. “Hierdie tarief kom neer op ʼn dubbele koste vir verbruikers wat uit hul pad gegaan het om vir hulself energie te verseker,” sê hy.

“Ons glo dat daar ʼn gedesentraliseerde netwerk moet wees, waar mense vrylik met krag kan verhandel.”

Mostert sê Nersa kan as deel van sy reguleringsmagte verskeie opsies aanbied wat beteken krag kan meer vrylik opgewek en verkoop word. Die DA meen ook Nersa moet Eskom se voorstel verwerp omdat sy verantwoordelikheid in die eerste plek teenoor verbruikers is, en nie teenoor Eskom nie.

Meer as miljoen vir ministers se kragopwekkers

Die DA spoeg ook vuur omdat die staat sowat R2,6 miljoen bestee het om die ligte by verskillende ministers se huise aan te hou. Volgens Samantha Graham-Maré, die DA se woordvoerder oor openbare werke en infrastruktuur, is dit ʼn skande dat hospitale, sakeondernemings en gewone Suid-Afrikaners in die donker rondval, terwyl die ministers wat vir die katastrofe verantwoordelik is, nie met die probleem sukkel nie.

City Press het die naweek berig die departement het verlede jaar R1,3 miljoen opgedok om kragopwekkers by ministers se huise te laat installeer. Die bedryfskoste het sedertdien van R31 750 verlede jaar tot R621 000 vir die eerste helfte van vanjaar opgeskiet.

Graham-Maré sê as die ANC-regering ʼn duit omgegee het oor arm en kwesbare Suid-Afrikaners, sou hy verseker het dat hospitale en klinieke se krag tydens beurtkrag aanbly, asook dat misdaadbrandpunte nie in die donker sit nie en dat klein ondernemings hul deure in dié tyd kan oophou.

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon