Archives

Prysvooruitsigte vir die tweede helfte van 2022

Featured Ad


Die tyd vlieg en ons is reeds in die tweede helfte van 2022. Oor die afgelope ses maande was daar soveel goeie én slegte faktore wat Suid-Afrikaanse boerderye beïnvloed het. Alhoewel dit nie help om te tob oor die verlede nie, moet ons daarna loer om planne vir die toekoms te beraam.

Die verlede

Die jare 2020 en 2021 was sekerlik van die mees onsekere jare in die onlangse geskiedenis, maar vir rooivleisprodusente het dit eintlik heel goed uitgedraai, nadat pryse in 2018 en 2019 soms onder 2017 se prysvlakke was.

Hoewel die pryse van beesvleis (Figuur 1) en speenkalwers (Figuur 2) teen middel 2020 nog swaar getrek het, het dit later vinnig opgetel en in 2021 nóg beter gevaar. Die jaar-op-jaar prysstygings vir beesvleis was 5% in 2020 en 13,4% in 2021, terwyl speenkalfpryse met onderskeidelik 15 en 18% gestyg het. Wat lamsvleis (Figuur 3) betref, was 2020 ’n uitsonderlike jaar, met ’n prysstyging van 21% en ’n verdere toename van 8% in 2021. Speenlampryse (Figuur 4) het met onderskeidelik 12 en 15% gestyg.

Die prysstygings van beide bees en skaap in 2020 en 2021 was hoër as die inflasiekoers, wat darem so ‘n bietjie opgemaak het vir die lae pryse van die vorige jare.

Die hede

Die pryse van bees- en lamkarkasse, sowel as speendiere, het vanjaar goed afgeskop teen heelwat hoër vlakke as in 2021. Een interessante afwyking, indien al vier figure oorweeg word, is die feit dat die speenkalfprys ná week sewe begin terugsak het, terwyl ander pryse sterk gebly het. Dit is waarskynlik omdat die speenseisoen ‘n aanvang begin neem het en hoë voerpryse druk op voerkraalmarges sit.

Die toekoms

Die feit dat pryse baie goed in die eerste helfte van 2022 gevaar het, gee ons hoop op sterk pryse vir die tweede helfte ook. Die jaarlikse pryssiklus is baie herhalend en dit gebeur min dat twee opeenvolgende jare se pryse kruis.

Die hoë voerpryse kan egter aanhou om speendierpryse onder druk te plaas, maar aan die skaapkant bestaan ’n tekort aan lammers weens die abnormale hoë somerreënval, terwyl die kalweraanbod ook laer is in die tweede helfte van die jaar.

Stygende rentekoerse gaan die besteebare inkomste van verbruikers beperk, maar die grootste gedeelte van Suid-Afrika se bevolking val onder lae-inkomstegroepe en hul verbruik van bees- en skaapvleis is min. Die vraag na bees- en skaapvleis gaan dus eers werklik beïnvloed word wanneer meer gegoede verbruikers hulle eet- en koopgewoontes aanpas, en dit gebeur nie maklik nie.

Ek verwag dus dat pryse redelik sterk sal bly vir die res van die jaar en dat ons minstens ’n inflasieverhoging op 2021 se pryse sal sien. Alhoewel hoër pryse nie noodwendig meer wins beteken nie, help dit tog om kop bo water te hou met die skerp stygings in insetkoste. – Prof Frikkie Maré, Universiteit van die Vrystaat

Vir meer inligting, kontak prof Frikkie Maré by MareFA@ufs.ac.za.

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon